Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 2 | Somer 2018

Foto: Jannie Mouton is hier met sy familielede: Engela Olivier (suster), Jan Mouton (seun), Deidre Mouton (vrou), Piet Mouton (seun) en Charité Volkwyn (dogter).

Dit was ’n trotse oomblik vir US-alumnus Jannie Mouton toe hy die nalatenskap van sy pa se baanbrekende werk tydens die sooispitseremonie vir die Jan Mouton Leersentrum in Februarie gevestig het.

Net soos sy seun Jannie het Jan Mouton sr ook aan die US studeer.

Die jongste was sewe kinders was hy ’n eerstegenerasie student wat van swaarkry geweet het. Ná skool het hy gaan werk om genoeg te verdien om vir sy studies te betaal. By die US het hy vir die eerste span rugby gespeel en was hy ’n inwoner van Dagbreek. In 1941 behaal hy ’n BComm-graad, gevolg deur ’n nagraadse kwalifikasie in onderwys in 1942.

“My pa het ʼn bepalende invloed op my lewe gehad en ek het die allerhoogste agting vir hom,” sê Jannie Mouton. “Dis om hierdie rede dat ek die Universiteit versoek het om die sentrum na my pa te vernoem. Benewens my pa is ek ook persoonlik deur mnr Warren Buffet aangespoor om ʼn positiewe verskil in die samelewing te maak – tot voordeel van die volgende generasie." Ná universiteit was hy enkele jare ʼn onderwyser op Groblershoop en daarna ʼn winkelier op Carnarvon en bekend in koöperasie-kringe. Hier het Jannie Mouton jr self vakansies in sy pa se winkel gewerk. Jan Mouton sr het ook ʼn voorliefde vir aandele gehad – waardeur Mouton jr se belangstelling in die aandelebeurs aangewakker is.

Mouton sr was baie gewild op Carnarvon, waar hy ook jare lank burgemeester was. Hy was bekend daarvoor dat hy uitgereik het na verskillende gemeenskappe op die dorp. Hy het later na Pretoria verhuis waar hy in landboubestuur gewerk het.

Hy is in 1975 oorlede.

“ʼn Universiteit is by uitstek ʼn plek waar drome nagejaag en verwesenlik word. Elke jaar kom daar duisende studente na ons toe met groot drome vir hulleself, hul families en die breër gemeenskap. Dis ons rol om daardie studente te ontvang en hulle deur middel van die hoër onderwys te help om hul drome te verwesenlik,” sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US).

“Hiervoor het ons goed-toegeruste geboue nodig waarin uitnemende leer en onderrig kan plaasvind. Ons het slim geboue nodig, ons het groen geboue nodig – geboue van die toekoms."
De Villiers het verduidelik dat, “ten spyte van groot vooruitgang in inligting- en kommunikasietegnologie, daar steeds behoefte is aan menslike interaksie. Hierdie persoonlike interaksie tussen dosent en student bly noodsaaklik en so ook dié tussen studente van verskillende agtergronde, as dit kom by saam leer en van mekaar leer. En hiervoor het mens gepaste geboue nodig. Terselfdertyd moet jy ook toegang tot die kuberruim hê, sodat kennis vrylik kan instroom én uitvloei.”

Werk aan die sentrum, wat meer studente sal akkommodeer as enige ander huidige onderrigruimte op die kampus, het in Oktober 2017 begin en behoort teen die einde van 2019 voltooi te wees.
Hy het bygevoeg dat dit baie spesiaal is dat die seremonie in die US se eeufeesjaar kan plaasvind. “Die Universiteit het juis in 1918 danksy ʼn groot skenking van Jannie Marais tot stand gekom. En sedertdien stroom geslagte studente na Stellenbosch om hul drome te kom verwesenlik. Aanvanklik het die Universiteit, in die konteks van die tyd, op ʼn bepaalde gemeenskap gefokus. Maar mettertyd is toegang verbreed, en nou dien ons met trots die hele land en al sy mense. En die nuwe gebou wat op hierdie perseel gaan verrys, sal die kapasiteit skep om die Universiteit nog verder toeganklik te maak," het prof De Villiers bygevoeg.

Waardering van alumni-vennootskappe

By die geleentheid het De Villiers spesiale erkenning gegee aan die bydrae van Jannie Mouton, ʼn US-alumnus, jarelange donateur en stigter van die beleggingsmaatskappy, die PSG Groep.

Mouton het reeds in 2007 die Jannie Mouton-PSG Beursleningsprogram tot stand gebring. Sedertdien het al digby honderd studente finansiële bystand uit hierdie inisiatief ontvang. In 2016 maak Mouton ʼn massiewe filantropiese skenking aan die US toe hy R50-miljoen bygedra het tot die boukoste van die sentrum. Op hierdie stadium was dit die grootste filantropiese skenking aan die US deur ’n enkele skenker.

“In totaal beloop sy filantropiese skenkings aan die Universiteit nou al veel meer as hierdie verstommende bedrag. Maar belangriker as groot somme geld is die feit dat dit studente en die bevordering van studentesukses is, wat by Jannie se skenkings baat. Dít is kenmerkend van sy skenkings aan die US en sy geldelike hulp aan studente – dat dit die versterkende mag van die hoër onderwys inspan om lewens te verander, om die wêreld te verander.

“Mense wat hom ken, weet hy is nie iemand wat roem en eer najaag nie. Hy is nie iemand vir die kollig en die rooi tapyt nie. Op tipiese wyse het hy as die grootste individuele skenker vir hierdie projek versoek dat die gebou sy pa se naam sal dra – Johannes Jacobus Mouton, of kortom, Jan Mouton," het De Villiers gesê.

Mnr Mouton het vroeër gesê dat die skenking vir hom meer is as net ʼn belegging in ʼn kontemporêre ruimte wat die leerervaring van ons studente sal verryk. “Dit is inderdaad ʼn belegging in die toekoms en voortgesette uitnemendheid van die Universiteit Stellenbosch as ʼn wêreld-gehalte leier op die gebied van hoër onderwys."

Unieke eienskappe van die sentrum

Die sentrum, geleë tussen die Langenhoven Studentesentrum (of Neelsie, soos dit beter bekend is) en die Polimeerwetenskappe-gebou op die Stellenbosch-kampus, sal ʼn lae koolstofvoetspoor hê en sal onder meer spog met ʼn gryswaterstelsel wat die ablusies sal dien. Die infrastruktuur sal gereed wees vir ʼn fotovoltaïese dakpaneel-installasie, terwyl reën en grondwater opgevang en gestoor sal kan word.

Die sentrum sal ook spog met ʼn binnehof en terrassitplekke, wat sal bydra tot die skep van lig en vloei. Die fokus is op studente wat moet kan welkom voel terwyl hulle die nuutste teorieë ondersoek en konsepte aanwend. Die sentrum sal oor 350-, 270- en 150-sitplek plooibare lesingsale beskik waar studente en dosente die fisiese omgewing kan aanpas om besprekings en spanwerk te fasiliteer.

Driedubbelvolume sirkulasieruimtes met interaksiehoekies sal die ouditoriums en die rekenaarklaskamers verbind. Dit sal opeenhoping verminder en effektiewe leer- en onderrigruimtes bevorder. Die gemeenskaplike ruimtes aangrensend tot die hoofkamers sal vir wegbreekbesprekings en portuurinteraksies ingespan kan word. Die onderdakdeurgang sal die sentrum met ander kampusgeboue verbind, en ʼn restaurant sal vars etes verskaf om te verseker dat studente gevoed en gretig om te leer is.

De Villiers het ook erkenninge gegee aan die Departement Hoër Onderwys en Opleiding en ander donateurs wat die projek finansieel moontlik gemaak het.

  • Benewens die Jan Mouton Leersentrum, het die Uitvoerende Komitee van die Raad ook onlangs die name goedgekeur van twee ander US-geboue: Die nuwe koshuis op die Tygerberg-kampus sal bekend staan as Nkosi Johnson Huis ter ere van dié kampvegter vir persone met MIV/Vigs wat in 2001 op 12-jarige ouderdom oorlede is. Die nuwe gebou waarin die Afdeling Informasietegnologie gehuisves gaan word, kry die naam Inligting- en Kommunikasietegnologie (Information and Communication Technology in Engels en Ubuchwepheshe Bolwazi Nonxibelelwano in isiXhosa).
  • Die Universiteit is ook besig met ʼn transformasieproses rakende die openbare simbole en ruimtes van die Universiteit. Dit sluit onder meer 'n naamgewingsproses in.

 

Prof Wim de Villiers, George Steyn, Voorsitter van die US-raad, en Jannie Mouton.
Fotograaf: Anina Fourie.