Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 2 | Somer 2018

Foto: Hercules Du Preez Wessels, Chloe Kilgour, Katherine Woodhouse, Kelly-Ann Rock, Nikki Baguley, Christina Pitt, Grantham Williams

Om individue uit ’n persoonlike hel te red, plaasbewoners toegang tot hulle regte te gee en spesiale hulp aan gestremde persone te verleen, dit is slegs enkele van die sake wat die Universiteit Stellenbosch (US) se Regskliniek jaarliks aanpak.

Danksy ’n onlangse skenking van R1-miljoen van die Claude Leon-stigting kan personeel en studente fokus op die werk wat hulle die beste doen: om ’n passievolle verweer vir die dikwels weerlose persone in die samelewing te lewer.

“Ons waardeer werklik die beduidende bydrae wat hierdie stigting deurlopend maak tot die Regskliniek en die gemeenskap wat ons dien,” sê dr Theo Broodryk van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid. “Die sake wat ons aanvaar, behels ’n aansienlike belegging in tyd, energie en hulpbronne. Ons sou hierdie werk nie kon doen sonder ons vennote nie,” voeg hy by.

Die Claude Leon-stigting ondersteun projekte wat aansluit by sy vyf strategiese temas: die opbou van navorsingskapasiteit in hoër onderwys; die ondersteuning van innovasie in skoolopleiding; vroeëkinderontwikkeling; die verdediging van demokrasie; en die skep van geleenthede vir die naskoolse jeug.

“Aangesien ons die Regskliniek se werk as van wesenlike belang beskou, is dit vir ons aangenaam om ons noue verbintenis met hulle te kan voortsit,” sê mnr William (Bill) Frankel (OBE), voorsitter van die stigting.

Hierdie Suid-Afrikaanse liefdadigheidstrust is reeds meer as 30 jaar lank ’n waardevolle vennoot van die US en het meer as R45-miljoen bygedra tot onder meer nadoktorale beurstoekennings, merietebeurse vir dosente, honneursbeurse, en die uitbreiding van die Regskliniek se werksaamhede.

“Ons is dankbaar vir die volgehoue belegging van die Claude Leon-stigting in die werk wat ons doen,” sê Broodryk. “Hulle ondersteun die Regskliniek reeds sedert 2007 en die voortsetting van hierdie hulp deur ’n skenking van R1-miljoen word oor twee jaar versprei en begin in 2018.

Genderregtesaak

Die Regskliniek het onlangs ’n saak aanvaar ná ’n versoek deur ’n maatskaplike welsynsorganisasie om ’n 17-jarige meisie te help wie se ouers uitgevind het sy identifiseer haar as ’n lesbiër. Haar ouers het haar uit die skool gehaal en gereël vir ’n “reinigingsritueel” wat in ’n landelike gebied in die Oos-Kaap sou plaasvind, waar sy gedwing sou word om met ’n plaaslike man te trou.

“Korrektiewe verkragting” deur die man wat met haar sou trou, sou deel van die reinigingsritueel wees.

Die Regskliniek het gereël dat sy in ’n plek van veiligheid gehuisves word en die nodige interdikte teen verskeie van haar familielede bekom. In daardie stadium was sy besig met haar matriekeksamen en die skool waar sy ingeskryf was, was nie bereid om aan die interdikte gehoor te gee nie. Daar is met die Departement van Onderwys in die Wes-Kaap saamgewerk en gereël dat sy haar eindeksamen by ’n ander skool aflê. Sy het in haar eksamen geslaag en woon tans op ’n veilige plek.

Kliënt met spesiale behoeftes

’n Kliënt is na die Regskliniek verwys deur ’n advokaat wat nie langer bereid was om die persoon op ’n pro bono-basis te help nie. Die kliënt wat doof is, is minstens vyf keer van een advokaat na die ander gestuur voordat sy by die Regskliniek se kantoor uitgekom het. Daar is met die Taalsentrum op kampus gereël vir ’n tolk wat die kliënt kon bystaan en hulle het saam die hofverrigtinge bygewoon.

Die kliënt het dit besonder moeilik gevind om haar behoeftes te kommunikeer, veral dié wat met die kinders te make het. Die Regskliniek kon sekere van die kwessies wat haar in die gesig gestaar het oplos, en hulle gaan voort om alternatiewe dispuuthanteringsmeganismes te gebruik om die oorblywende kwessies te hanteer. US-studente doen waardevolle ondervinding op terwyl hulle by die Regshulpkliniek werk.

Op die web: