Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 2 | Somer 2018

Foto: ‘n Afvaardiging van Sanford Health ontmoet US-verteenwoordigers om hul vennootskap te versterk.

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van fetale alkoholspektrumversteuring (FASV) ter wêreld, 111 uit elke 1 000 mense, volgens ʼn onlangse studie in 187 lande. Hierdie berig op die Huffington Post-webwerf, wat die studie aanhaal, voer aan dat FASV ʼn krisis in die land is en dat dit dringende aandag benodig.

FASV verwys na die permanente en onomkeerbare toestande wat deur die uitwerking van alkohol op die fetus veroorsaak word. Fetale alkoholsindroom (FAS) is die ernstigste toestand – met minstens twee gelaatskenmerke, groeivertraging wat lengte en gewig betref, ʼn kleiner kopomtrek en skade aan die sentrale senustelsel met vertragings in neuro-ontwikkeling.

Dit is duidelik dat dringende ingrypings nodig is om die impak van FASV op diegene wat daardeur geraak word, teen te werk. Die onlangse skenking deur Sanford Health vir ʼn navorsingsgenootskap in FASV aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Psigiatrie gebeur dus op ʼn besondere goeie tydstip.

Die skenking is aangekondig tydens ʼn onlangse besoek deur ʼn afvaardiging van Sanford Health aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Sanford Health is een van die grootste geïntegreerde gesondheidsorgstelsels sonder winsbejag in die Verenigde State van Amerika (VSA) en het die Sanford World Clinic Initiative gevestig, wat hoofsaaklik op internasionale pediatriese gesondheidsorg fokus. ʼn Teenwoordigheid word tans in vier lande gehandhaaf.

Die Sanford Hoyme-navorsingsprogram in FASV sal ʼn genootskap vir kliniese en genetiese navorsing in die voorkoming en behandeling van FASV ondersteun. Dit is vernoem na dr Gene Hoyme, Hoof van Genetika en Genoomgeneeskunde en Hoof- Akademiese Beampte van Sanford Health. Hy is die afgelope 15 jaar aan die spits van FASV-navorsing in Suid-Afrika en het gehelp om die voorkoms daarvan in Suid-Afrika te bepaal. Dit is tans steeds die hoogste aangetekende syfer ter wêreld.

“Hierdie navorsingsvennootskap met die US is revolusionêr wat betref ons begrip van hierdie toestand – nie net om die omvang van die probleem hier in Suid-Afrika te help definieer nie, maar ook om te weet hoe om ʼn vinnige, akkurate diagnose te maak en baie van die wetenskap wat daarby betrokke is,” het Hoyme tydens die onthulling van ʼn gedenkplaat in die Departement Psigiatrie ter erkenning van die borge van die genootskap gesê.

Hoyme werk al sedert 2008 saam met prof Soraya Seedat, Hoof van die Departement Psigiatrie by die FGGW. Die Departement het ʼn gevestigde FASV-navorsingsprogram en Hoyme was in ʼn reeks opeenvolgende studies in die Wes-Kaap, wat deur die National Institutes of Health in the VSA befonds is, die hoofspesialis in dismorfologie. Hoyme het oor die jare heen ook Suid-Afrikaanse navorsers en klinici aan die begin van hul loopbane gementor.

“Hierdie skenking sal ons in staat stel om, tot in ewigheid, ʼn talentvolle jong navorsingsgenoot aan te stel wat nougeset deur dr Hoyme gementor sal word,” het Seedat gesê.

Volgens haar is die navorsingspan ook baie opgewonde oor die moontlikheid dat ʼn FASV-navorsingsleerstoel in die nabye toekoms gevestig sal word om broodnodige intervensie- en voorspellings- diagnostiese navorsing op hierdie gebied te handhaaf en uit te brei.

 

Dr Gene Hoyme met prof Soraya Seedat.