Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 2 | Somer 2018

"Dit neem egter geld om voortreflikheid uit te bou," sê Chris. Hy en sy vrou Marica het reeds al oor die jare aansienlike bedrae aan die Universiteit geskenk onder meer binne die Lettere en Sosiale Wetenskappe asook aan die Fakulteit Regsgeleerdheid.

Chris het beide sy BCom (1970) en LLB (1972) grade aan die US voltooi en is ook ‘n oud-Eendragter. Marica het haar BA-graad in 1973 behaal en het ‘n sangloopbaan gevolg.

"Ons is van mening dat opvoeding die sleutel tot alle suksesse is. Verder behoort almal wat hard werk, toegang tot goeie akademiese opvoeding te kan kry. Ons kyk ook na dissiplines wat soms bietjie afgeskeep word, soos musiek en Geskiedenis. Sonder opvoeding in die Sosiale Wetenskappe, vervlak 'n samelewing,” glo Chris.

"Ons wil help om Stellenbosch en sy studente uit te bou na die beste op die kontinent. So ook dink ons dat almal moet help om die afhanklikheid vanaf die staat te verminder. Met die goeie leierskap wat Stellenbosch tans geniet en hopelik ook in die toekoms sal hê, verwag ons dat die US sy status en leierskap na die top, minstens op hierdie kontinent, sal verbeter. Die dae van 'n geslote gemeenskapskollege vir bevoorregte groepe is lankal verby. Ter wille van ons almal se toekoms moet ons (veral finansiëel) help om Stellenbosch uit te bou," sê hy.

"Dis mos 'n goeie kringloop - kwaliteit lei tot kwaliteit sodat ons kan spog met alumni wat op alle vlakke van ons samelewing gevind kan word en presteer."

Maar hoekom skenk hulle juis aan die US? “Ons skenk aan die US omdat ons al 'n lang pad met Matieland aankom - ons het hier studeer en lojaliteit opgebou, so ook ons vorige geslagte. Hopelik sal ons kleinkinders die vierde geslag Maties word. Oupa (ds) Piet vd Westhuizen het al in 1928 gegradueer, daarna ek en Marica en toe ook ons eie kinders, Diderik en Zephne.”

Wil jy graag ‘n verskil maak? Kontak die Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge kantoor by development@sun.ac.za