“Vandag se jongmense het die groot taak om ʼn samelewing te bou wat beter en anders is as wat ons gehad het. Ons moet hulle ondersteun en geleenthede skep waarin hulle iets nuut kan skep.”
Jy het in 2014 jou doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal. Vertel ons van jou akademiese agtergrond.
Nadat ek in die laat 1970’s aan Crestway Sekondêre Skool gematrikuleer het, het ek aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Die vier jaar daar het ek uitsluitlik aan die BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Sosiologie as hoofvakke en die Hoëronderwysdiploma (HOD) bestee. Die politieke besluit om eerder om ʼn permit aansoek te doen as om by die Universiteit van Wes- Kaapland te studeer, is ook deur my politieke bewuswording in die suidelike voorstede van Kaapstad beïnvloed. Dit was ongewone tye – van protes en uitsluiting. Die volle ervaring van studentelewe het my generasie nie daar beleef nie; dit was ʼn geval van kry jou kwalifikasie en klaar. In my PhD-proefskrif het ek die Suid-Amerikaanse pedagoog Paulo Freire se opvoedkundige filosofie as teoretiese verkenning vir my navorsing aangewend. Sy ontwikkeling het vanaf pedagoog na wêreldgerekende filosoof in die opvoedkunde gegroei.
Wie of wat inspireer jou?
Daar is baie wat my inspireer. Behalwe my ouers en familie, laerskool- en hoërskoolonderwysers, was dit spesifiek ons skoolhoof aan Crestway, meneer Yusef da Costa, wat vir my ʼn inspirasie was. Ek twyfel of ek universiteit toe sou gegaan het sonder sy inspirasie. Ek was ook sterk onder die invloed van ikoniese vroue soos Fatima Meer, Winnie Mandela en Theresa Soloman tydens my studentejare. My inspirasie in die onderwys en opvoeding in die breë is gevoed met my kennismaking met Paulo Freire.
Jou ontslape man, prof Russel Botman, het geglo in die potensiaal van die volgende generasie as denkleiers vir die toekoms en billike toegang tot hoër onderwys. Deel jy hierdie visie?
Russel was my naaste gespreksgenoot. Ons albei se visie van onderwys en opvoeding is sterk aan die toekoms gekoppel en sterk op hoop as opvoedkundige kwessie gefokus. As ons glo dat onderwys die hede aanspreek met die oog op die toekoms, is die volgende geslag dus van baie groot belang. Die besef dat die mens en spesifiek opvoeders “onklaar” (“unfinished”) is en aanhoudend moet leer en ontwikkel, moet noodwendig geleenthede skep vir die jeug om as denkleiers te ontwikkel. Meer nog, ons moet toelaat dat húlle leierskap ons verder neem.
Hoe bou jy voort op prof Botman se nalatenskap?
Russel het ʼn ryke nalatenskap wat ons nie kan toelaat om verlore te gaan nie. Ek verwys na hom as “die genomineerde”. Hy het nie aan aansoek doen sonder ʼn nominasie geglo nie, seker omdat hy as predikant “geroep” is. So is hy dan ook vir omtrent alles wat hy aangepak het, genomineer. Sy nalatenskap word op vele terreine beskerm en beskikbaar gestel. Sy boeke, geskrifte, dokumente en manuskripte is aan die US geskenk. Die Russel Botman-versameling is onlangs deur die argief van die Beyers Naudé Sentrum bekendgestel en is beskikbaar vir navorsing. ʼn Huldigingsbundel is pas gepubliseer. Die Russel Botman-beursfonds is ook ʼn aspek van sy nagedagtenis waaraan ek die hardste werk.
Wat is jou hoop vir die volgende generasie?
Vandag se jongmense het die groot taak om ʼn samelewing te bou wat beter en anders is as wat ons gehad het. Ons moet hulle ondersteun en geleenthede skep waarin hulle iets nuut kan skep. My boodskap aan hulle is: Werk vir die groter goed, doen jou bes en gryp elke geleentheid vir ontwikkeling en vervulling aan.
Maak 'n skenking aan die RUSSEL BOTMAN BEURSFONDS: (met jou verwysing as H733; voorletters en van)
BANK |
Standard Bank |
TAK |
Stellenbosch |
TAKKODE |
05 06 10 |
REK-NAAM |
Universiteit Stellenbosch |
REK-NR |
073006955 |