Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 2 | Somer 2018

Die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, is die nuutste van die onlangse befaamde en gerespekteerde denkleiers wat die Universiteit Stellenbosch gekies het as die plek om met hulle lewenswerk voort te gaan.

Madonsela begin haar werk aan die Universiteit Stellenbosch

“Ek het die Universiteit Stellenbosch gekies omdat dié my toelaat om op my eerste liefde, Maatskaplike Geregtigheid, te fokus; die Universiteit laat my ook toe om op minder administratiewe werk te fokus. Ek het talle aanbiedinge ontvang, maar in hierdie stadium van my lewe meen ek – met al die kennis wat ek oor die jare heen opgedoen het – moet ek dit terugploeg," sê professor Thuli Madonsela.

Suid-Afrika se voormalige openbare beskermer, prof Madonsela, het amptelik haar pos in die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) in Januarie vanjaar opgeneem. Sy sal betrokke wees hoofsaaklik in onderrig en navorsing in die US se Regsfakulteit, maar sal ook by inisiatiewe van die burgerlike samelewing betrokke wees.

Hierdie oudleerkrag aan die Hoërskool Naledi sê onderrig is een van die belangrikste instrumente om mense se gedagtes te transformeer en hulle te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik, en dat dit vir haar ’n voorreg is om in ’n ruimte te wees waar sy onderrig kan gebruik om mense se gedagtes te transformeer.

Sy sê voorts dat sommige van die onderrigaspekte wat sy graag aan haar studente op Stellenbosch wil oordra, is om hulleself eerstens as werkskeppers te beskou en sekondêr as werksoekers. Sy stel dit so: “Sommige van ons sal vir ander mense moet werk, maar ons moet die paradigma verander wat lui: 'ek is 'n werksoeker'. Selfs as mens kyk na primitiewe samelewings is die gemiddelde persoon nie ’n werksoeker nie, en dit geld selfs in die diereryk."

Sy sluit af: “Die gemiddelde persoon word ontwikkel en opgevoed om funksioneel te wees in terme van die skep van geleenthede om kos en ander vorderings vir die gemeenskap te genereer. Dít is wat nodig is om by jongmense in te burger, reeds van graad R af, dat jy werk kan skep en die wêreld kan beïnvloed."

Ervare aktivis gaan US se Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur lei

Toe sy in 2001 as MIV-positief gediagnoseer is, het Vuyiseka Dubula-Majola (39) geglo sy sal binne ’n paar maande sterf. Vandag – amper 17 jaar later – is sy die nuwe direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur, ’n PhD-kandidaat, ’n eggenote en die ma van twee kinders wat MIV-negatief is.

Sy is ook opgeneem in die boek, A to Z of Amazing South African Women, ’n publikasie wat die bydraes van vroue tot Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms huldig. Ander name in hierdie boek sluit in Winnie Madikizela-Mandela, Fatima Meer, Caster Semenya, Natalie du Toit, mev Ples en Thuli Madonsela.

In dié boek verwys hulle na Dubula-Majola as “’n heldin vir ons tye” – iemand wat alle uitdagings te bowe gekom het en steeds aktief werksaam is om die situasie te verbeter.

Dubula-Majola is ’n alumna van die US – sy het albei van haar nagraadse kwalifikasies, ’n Nagraadse Diploma en ’n MPhil in HIV/vigsbestuur, deur die Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur verwerf. Sy is ook reeds vir twee jaar ’n dosent aan die Sentrum.

“Ons durf nie oorgerus raak nie. Selfs een infeksie is te veel," sê sy.

Dubula-Majola se lewe as ’n aktivis het in ’n Treatment Action Campaign (TAC)-sentrum in Khayelitsha begin. Sy glo die fokus moet nou skuif na voorkoming en gedragsingryping. Geslagsongelykheid, armoede en ander maatskaplike en strukturele kwessies stel steeds baie mense, veral jong vroue, bloot.

Die Afrikasentrum vir MIV/vigsbestuur is in Januarie 2003 gevestig deur die uitgaande direkteur, prof Jan du Toit, wat aan die einde van die jaar aftree nadat hy in 1972 by die US se Departement Bedryfsielkunde aangesluit het.

Die Sentrum fokus op onderrig, navorsing en gemeenskapsdiens wat verband hou met MIV- en vigsbestuur in die werksplek. Dubula-Majola sien uit na haar nuwe rol as direkteur. “Ek verwelkom uitdagings. Dit is hoe ’n mens groei."

Jonathan Jansen aangestel as uitgelese professor aan die Universiteit Stellenbosch

Die openbare intellektueel en voormalige Visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, prof Jonathan Jansen, het ʼn pos aan die Universiteit Stellenbosch (US) aanvaar.

Jansen (61), ʼn A-gegradeerde wetenskaplike van die Nasionale Navorsingstigting, het die pos van uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aanvaar waar hy onderrig sal onderneem en navorsing sal doen oor skoolbeheer, bestuur, leierskap en beleid. Hy sal ook as mentor vir nagraadse studente optree.

Met dié aankondiging het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, gesê die instelling sal groot baat vind by Jansen se kundigheid as vooraanstaande skrywe, denkleier en opvoedkunde-spesialis. “Prof Jansen is stellig nie net een van die voorste pedagoë van ons tyd nie, maar ook die spreekwoordelike stem roepende in die woestyn, wat nooit huiwer om die toedrag van landsake aan te spreek nie, en – ewe belangrik – ook die toedrag van onderwys in ons geliefde land."

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, voeg by: “Prof Jansen is ’n skolier te moede. Ons is daarvan oortuig dat sy navorsingskundigheid ’n betekenisvolle maatskaplike impak op alle vlakke van die onderwysstelsel in Suid-Afrika sal hê."

Prof Yusef Waghid, waarnemende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, is eweneens ingenome oor die vooruitsig om prof Jansen in dié Fakulteit te verwelkom. “Prof Jansen se aantelling bied uitstekende geleenthede vir kollegas om met hom beraadslagende, verantwoordelike en waagmoedige gesprekke te voer – dialoog wat verband hou met wat ’n universiteit is en wat dit veronderstel is om te doen. Ek is optimisties dat prof Jansen se intellektuele stem en passie vir die onderwys ’n positiewe impak op die wetenskaplike werk waarmee die Fakulteit geassosieer word, sal hê. Hierdie is nog ’n geleentheid om ons soeke na ’n sinvolle en regverdige skoolstelsel te verbeter."

Jansen sê: “Ek is baie opgewonde oor die geleentheid om aan een van die voorste universiteite op die vasteland en saam met van die voorste onderwysnavorsers te kan werk. Ek hoop om saam met my kollegas ʼn klein bydrae te kan lewer sodat navorsing waarde het in die transformasie van skole en in die voorbereiding van die volgende geslag wetenskaplikes."

Jansen, ʼn ontvanger van drie eredoktorsgrade en ʼn genoot van die Sentrum vir Gevorderde Studie in die Gedragswetenskappe (Center for Advanced Study in the Behavioral Sciences) aan die Universiteit van Stanford in 2016/17, neem die nuwe pos op 1 November op.​

Prof Pumla Gobodo-Madikizela aan hoof van belangrike Navorsingsleerstoel

Die bekroonde skrywer en gesiene navorser, professor Pumla Gobodo-Madikizela , wat bekend is vir haar werk in die gebied van trauma en versoening, beklee die Navorsingsleerstoel vir Sosiale Verandering en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Gobodo-Madikizela is ook deur die Nasionale Navorsingstigting erken as ’n navorser wat aansienlike internasionale erkenning onder haar eweknieë geniet. Sy as ’n lid van die voormalige Waarheids- en Versoeningskommissie, waarna sy navorsing gedoen het veral oor die elemente wat lei tot genesing wanneer slagoffers en oortreders met mekaar in gesprek tree na massatrauma en geweld. Daarna, terwyl sy ’n genoot was aan Harvard Universiteit, was sy ’n medeskrywer van die bekroonde boek, A human being died that night: A South African story of forgiveness.

Oor haar werk sê sy: “Ná voltooiing van my PhD was my navorsing gefokus op vrae oor kwessies van berou, empatie en vergifnis. Hierdie werk het gelei tot ’n ondersoek na die rol van dialoog wanneer slagoffers, oortreders en begunstigdes van growwe menseregteskendings met mekaar in een land moet saamwoon – soms as bure.”

Gobodo-Madikizela het onlangs hierdie werk uitgebrei om die konsep van empatie meer diepgaande te verken deur betrokke te raak by ’n perspektief wat as beginpunt het die Afrika-verskynsel van inimba – ’n isiXhosa-woord wat losweg as “naelstring” vertaal kan word – en dit met die verhoudings- en psigoanalitiese konsep van intersubjektiwiteit te integreer. Die doel is om ’n ryker, dieper en meer komplekse begrip van empatie te vind wat rekening hou met die bestaande Afrika-kennisargief.