Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 2 | Somer 2018

Die droë veld van die Danie Craven-stadion te Coetzenburg is op 25 Januarie 2018 deur ʼn vloedgolf maroen getref soos wat entoesiastiese en hoopvolle eerstejaarstudente aan die formele verwelkomingsprosessie en die amptelike aanvang van die Universiteit Stellenbosch (US) se Eeufees deelgeneem het.

Die Universiteit wat op 2 April 1918 met vier fakulteite – Lettere, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Landbou (nou Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en AgriWetenskappe) – 503 studente en 40 dosente begin het, spog vandag met tien fakulteite, vyf kampusse en ʼn lewendige en kosmopolitaanse gemeenskap van meer as 30 000 studente en 3 000 personeellede.

Tydens die Dream Launch-geleentheid is studente aangemoedig om hul drome op papier ‘blare’ te skryf wat oor die stadion se oop velde gewaai is. Studente het ook op die sportvelde rondom ʼn reuse 100 wat op die gras uitgelê is, byeengekom – ter gedenking van 2018, wat die honderdste jaar van eerstejaarsdrome is. (Jy kan hier ʼn kort video van die geleentheid kyk.)

“Die doel agter die Dream Launch-geleentheid is om alle eerstejaars met hulle verskillende herkomste vir die eerste keer as Maties bymekaar te bring,” sê Ferdie van Dyk, administratiewe beampte by die Sentrum vir Studenteleierskap en -strukture. “Die Dream Launch is ʼn viering van die studente wat ons Universiteit se lewensbloed is – en ons wil aan hulle wys dat die Universiteit en die mense om hulle hul drome oor die komende jare sal ondersteun,” voeg Van Dyk by.

Saam vorentoe

As ʼn trotse Matie, wat ook op sy dag as ʼn studenteleier gedien het, is professor Wim de Villiers opgewonde daaroor om die Universiteit op hierdie kritieke tyd in sy geskiedenis te lei. “Hierdie jaar se viering sal plaasvind teen die agtergrond van baie dekades van uitmuntende akademiese prestasies en waadevolle lesse wat uit die instansie se ingewikkelde geskiedenis geleer is,” sê prof De Villiers.

“Soos ons ons Eeufees in 2018 gedenk, vier ons geweldige prestasies en deurbraakontdekkings. Ons eer die meer as 250 000 alumni en studente, opvoeders, navorsers en professionele en administratiewe steundienspersoneel, sowel as ons strukture vir bestuur en beheer wat ons gehelp het om hierdie instansie te vorm en sy reputasie as ʼn wêreldklas akademiese instansie verstewig het.”

Ter viering van die Eeufees, het die Rektor die 2018 Kaapse fietstoer as deel van die #Maties100-span afgelê saam met voormalige Springbokfietser Carinus Lemmer en die voorsitter van Maties Fietsry, Nicky Giliomee, om geld vir beurse in te samel. Sy dogter, Gera, was ook ʼn lid van hierdie span.

Die Eeufeestema is 100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg, en die leuse, in die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, lui: saam vorentoe/forward together/masiye phambili.

Verlede jaar het die US meer studente as nog ooit tevore ingeskryf en ʼn rekordtal kwalifikasies toegeken. In albei gevalle is die diversiteit van die studentekorps verhoog terwyl die moduleslaagsyfer terselfdertyd bo 85% gebly het – een van die hoogste syfers in die land.

“Transformasie ondermyn nie uitnemendheid nie. Daar is krag in diversiteit wat ons toenemend aan die US sien botvier,” sê prof De Villiers. “Oor die afgelope drie jaar is daar tasbare bewyse dat die US sy statuur en uitnemendheid verhoog, sowel plaaslik as internasionaal.”

Die US, as ʼn openbare instansie, het sy rol in hoër onderwys vervul in die konteks van die diverse politieke, sosio-ekonomiese, kulturele en opvoedkundige realiteite en verwikkelinge van die twintigste eeu, insluitende die spesifieke vorm van ongeregtigheid wat in der tyd in Suid-Afrika geheers het.

Sedertdien het die US sy bydrae tot die “ongeregtighede van die verlede” erken en hom verbind tot “gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe” – soos dit in die Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en Daarna van 20 Maart 2000 gestel is. “Ons gee ook erkenning aan die kritiese Matie-stemme uit daardie tyd wat nie tot stilswye gedwing kon word nie, ten spyte van verguising, en wat bakens op ons reis na ʼn regverdige samelewing geword het,” sê prof De Villiers.

Tekenend van sy veranderende karakter lok die US Suid-Afrika se voorste denkleiers na sy kampusse om ʼn toekoms wat oorloop van hoop te help navigeer.

Besoek die US se Eeufeeswebwerf www.sun.ac.za/100 om by te hou met die jongste Eeufeeshoogtepunte, soos die Eeufeesnarratief, ʼn 100-jaartydlyn en interessante berigte en geskiedkundige beelde, wat dwarsdeur die jaar bygewerk sal word.