Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 3 | Somer 2018

Twee jaar gelede was Steven (nie sy regte naam nie) op die punt om sy studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) op te skop. Sy ouers se laaste spaargeld was uitgeput en Steven se kos het opgeraak. Dit het gelyk of die toekomsdrome van hierdie akademies begaafde student op die rotse gaan beland, en wanhoop het op hom toegesak.

In ’n laaste desperate poging het Steven ’n oproep om finansiële hulp gegrond op sy uitstekende akademiese prestasie uitgestuur... en gewag. Toe, op ’n dag, ontvang hy ’n foonoproep wat hom trane van verligting bring: hy het die belangstelling geprikkel van ’n befondser wat beïndruk was met sy harde werk en prestasies. Hy hoef hom nie langer oor geld vir sy studie te bekommer nie.

Die held in sy storie, sy skenker, het in der waarheid verseker dat Steven nooit weer ’n hele week lank op een brood sou hoef te oorleef nie.

Jy kan ook die held in ’n US-student se storie wees.

Daar is baie studente soos Steven wat op ’n bepaalde stadium in hul akademiese lewe voedselonsekerheid sal ervaar. In 2018 het 465 nuwelingstudente (voorgraads sowel as nagraads) op kampus aangekom uit huise met ’n geweldige sosio-ekonomiese agterstand, wat hulle onmiddellik kwesbaar maak sover dit voedselonsekerheid betref. Alhoewel heelwat van hulle deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) studeer, bied fooivrye hoër onderwys slegs beperkte verligting. Laas jaar is 84,5% van die noodvoedseltoelaes in die November/Desember-eksamentydperk toegeken toe beursgelde reeds uitgeput was.

Die goeie nuus is dat Steven binne ’n paar weke sy gesogte gradetoga gaan aantrek en saam in die ry gaan sit om later oor die verhoog te kan stap. Steven en sy gesin sal uiteindelik vir hul swaarkry beloon word wanneer hy as gegradueerde die wêreld van werk en die lewe waarvan hulle almal gedroom het, kan betree.

Indien jy graag ander studente soos Steven wil help om hul eindstreep te bereik, onthou asseblief om op Skenkingsdag ’n donasie aan #Move4Food te maak by https://www.givengain.com/cc/su100/.

Skenkingsdag wat op 27 November plaasvind, is ’n vinnig groeiende wêreldwye liefdadigheid wat verdienstelike sake op die voorgrond plaas.

Jy kan geld skenk, of as jy graag meer wil doen, kan jy gerus as ’n fondswerwer registreer. Jy kan draf, swem, stap, fietsry of ’n voetslaanpad loop om studentehonger aan die US te beëindig. Ons het ’n lang pad gekom – maar daar is nog ’n lang pad om te gaan. Ons het jou hulp nodig om daar te kom.

  • Wil jy graag betrokke raak? Stuur ’n e-pos aan givingday@sun.ac.za om as ’n fondswerwer vir ’n opkomende sportgeleentheid te registreer.