In Januarie 1977 het my pa op die ouderdom van nege per ongeluk begin skoolgaan. My oupa was nooit van plan om hom skool toe te stuur nie omdat hy gereken het sy jong seun gaan, soos hy, ’n messelaar word. En dit maak formele onderwys mos onnodig.
Ek onthou die storie van hoe my pa in die skool beland het: ’n Vrou in sy gemeenskap het haarself die taak opgelê om alle kinders wat lyk asof hulle van skoolgaande ouderdom is, bymekaar te maak en by die skool in te skryf – sonder hulle geboortesertifikate of ouers se toestemming. Die meeste ouers in hierdie arm township-gemeenskap in die Oos-Kaap het blykbaar my oupa se siening gedeel. Vandag, meer as veertig jaar later, het die optrede van hierdie onbekende vrou die lewensverloop van ’n klomp gesinne verander. Dit het daartoe gelei dat baie van hierdie kinders en hulle gesinne se omstandighede binne een geslag verbeter is. My pa, wat een van hierdie kinders was, is nou ’n alumnus van die Universiteit van Kaapstad met ’n BSc-graad in Chemiese Ingenieurswese en ’n honneursgraad in Ekonomie.
Hierdie staaltjie bevat ’n ongelooflik belangrike les, veral in ’n land wat probleme in die gesig staar soos hoë werkloosheid, lae vaardigheidsvlakke en opvoedkundige kundigheid, asook ’n beduidende agterstand in tegnologiese vooruitgang. Die les is een wat ons tallose keer op die hart gedruk is: Is dit moontlik dat die antwoord op ons ekonomiese probleme vasgevang is in die verstand van kinders wat nie toegang het tot voldoende onderwys nie? Wat is dit dan wat tussen hierdie kinders en goeie onderwys staan? Wie word uitgelaat? Wat kan ons doen om dit reg te stel? Ons het geleer dat dit nie ’n oplossing is om die deure van onderwys aan almal net op beleidsvlak oop te gooi nie, maar dat dit eerder op ’n meer holistiese vlak gedoen moet word. Ons sien dikwels nie die invloed van behoefte-gebaseerde ondersteuning, wat finansieel en emosioneel van aard kan wees, raak nie.
'My borg het al my probleme opgelos'
Kom ons keer terug na die verhaal van die jong Oos-Kaapse seun om hierdie punt te illustreer. Die onderwysers het baie belanggestel in hierdie graad 11-seun wat op akademiese vlak uitstekend presteer het (en wat dikwels foute in hulle toetsmemorandums uitgewys het) en op hulle aanbeveling het hy ’n beurs gekry. Hierdie spesifieke beurs het meer as net geld gebied. Dit sou hom eerstens van sy township-skool na ’n privaat skool met ’n uitstekende leerplan neem en hy sou plek kry in ’n koshuis. Dit het boonop omvattende persoonlike ontwikkeling, mentorskap en loopbaanvoorligting ingesluit asook landwye reise na kunstefeeste en seminare. Dit is hoe die seun van ’n messelaar kon leer van beroepe soos ingenieurswese, rekeningkunde en ander wetenskappe. Hy spog dikwels en sê: “My borg het al my probleme opgelos.”
Daar is baie wat ons hieruit kan leer. Deur eenvoudig ’n individu uit ’n moeilike agtergrond na ’n vreemde skoolstelsel te stuur, is selde suksesvol. Mense wat uit ’n moeilike en arm omgewing kom en wat nie ondersteuningstelsels het nie, staar veel groter probleme in die gesig wanneer hulle probeer om hulle opleiding te bevorder en te voltooi. ’n Probleem wat onlangs aan die lig gekom het, is die kwessie van voedselsekerheid. Min mense weet dat daar by baie universiteite van wêreldgehalte studente is wat, ten spyte van hulle beurse, dikwels klas draf en toetse en eksamen skryf sonder om te weet waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom. Vroue met briljante breinkrag en ’n rooskleurige toekoms kan sommige maande nie klas toe gaan of hulle kamers verlaat nie omdat hulle nie sanitêre doekies kan bekostig nie. Kan jy jou indink hoe dit moet voel om die aantal dae per semester te tel wat jy nie kon klas bywoon nie omdat jy nie geëet het of toegang tot behoorlike sanitêre produkte gehad het nie? Hierdie beperkings het ongetwyfeld ’n noemenswaardige invloed op die aard van onderrig wat studente op skool of universiteit ontvang.
Dit klink soos nog ’n noodsein wat verband hou met toegang op universiteitskampusse. Die belangrikheid van omvattende dienste moet beklemtoon word: die soort dienste wat seker maak dat studente in die lesinglokaal bly, moet die teiken wees. Die verloop van ’n student se loopbaan kan bepaal word deur besluite wat op hierdie gebied geneem word. Hierdie omvattende benadering inkorporeer versorging by die filosofie van onderwys, soos voorgestel deur Albert Education (2009). Dit word gedoen deur gekoördineerde dienste en ondersteuning in die universiteitsmodel te bied. Dit beteken nie dat dit nie wêreldwyd op kampusse bestaan nie, maar hierdie kantore word dikwels oorval en beskik nie oor al die hulpbronne wat nodig is om alle studente wat hierdie probleme ondervind, by te staan nie. Dit beteken dat studente wat hulp nodig het dikwels weggewys word. Wanneer daar gesels word met mense wat op die gebied van studenteondersteuning werk, hoor ’n mens dikwels dat hierdie individue uit hulle eie sak vir studente kos of toiletware koop, of studente se reiskoste na en van die kampus betaal. Hulle doen dit omdat die gemiddelde beurs nie hierdie behoeftes dek nie.
Die werklike ekonomie van onderwys
Tydens my studie het ek gefokus op die werklike ekonomie van onderwys en daaroor navorsing gedoen. Ek het nie net die koste van skoolfondse ondersoek nie, maar die werklike koste van skoolgaan wat die koste van klere, vervoer, kos en kulturele veranderinge (bv. die koste om “in te pas”) insluit. Ek het baie tyd daaraan bestee om te leer hoe hierdie faktore ’n betekenisvolle invloed kan hê op waar kinders skool gaan en hoe hulle prestasie beïnvloed word. Dit is hierdie faktore wat, indien dit nie hanteer word nie, spanning veroorsaak by individue en huishoudings wat graag beter onderwys wil hê. Die doel van my artikel is om klem te lê op die belangrikheid van omvattende, holistiese ondersteuning op universiteitskampusse. In die Verenigde Koninkryk is ondersteuningsdienste vir studente geïdentifiseer as een van die belangrikste faktore wanneer die algehele kwaliteit van alle dienste wat deur ’n universiteit gelewer word geoudit word. Die rede hiervoor is dat, volgens Bartram (2009), die persoonlike ontwikkeling van studente ’n essensiële deel van die professionele akademiese wêreld is.
Ons hoor dikwels van die “studentervaring”, en ons glo dis vir almal dieselfde. Ons het onlangs, deur bewegings soos RhodesMustFall en FeesMustFall, geleer dat dit gevaarlik is om aan te neem dat alle studente se ervaring van die studentelewe dieselfde is. Wanneer ons dit doen, word ons blind vir die wrede werklikheid wat studente uit verskillende agtergronde in die gesig staar. Aspekte hiervan kan redelik maklik deur bestaande strukture by die universiteit reggestel word. Maar volgens Temple en medeskrywers (2014) is dit belangrik dat universiteite besef dat sommige studente meer planmatige ondersteuning nodig het om hulle voorgraadse kursusse te voltooi, en dat daar ’n verband tussen bykomende ondersteuning en akademiese prestasie is.
Navorsing oor studentesake in Afrika het die professionaliteit van studentesake ondersoek, waar studente se bekommernisse en ervarings (wat nie met akademie verband hou nie) op ’n waardige wyse hanteer is. Dit veronderstel dat die dienste wat aan studente gebied word meer geassosieer word met veranderende omgewings, leierskap, persoonlike ontwikkeling en persoonlike sorg, aldus Pansiri en Sinkamba (2017). Die omvang van sulke dienste wat deur studentesakekantore aangebied word, moet in ag geneem word en moet dienste insluit wat verseker dat studente se mees basiese behoeftes ook vervul word. Hierdie behoeftes sluit kos, vervoer en sanitêre produkte in omdat benadeelde studente weens uiters beperkte begrotings soms gedwing word om daarsonder klaar te kom. Die gebrek aan basiese goedere beteken dat hierdie studente die lewe heeltemal anders ervaar as hulle medestudente op die kampus en dat hulle ontwikkeling daarom verskil.
Soos die demografiese profiel van studente op Suid-Afrikaanse kampusse verander en diversifiseer, so verander die ervarings van die gemiddelde student. Universiteite se beleid en dienste moet by hierdie veranderinge aanpas. Dit het in die afgelope jare aan die lig gekom dat dié probleme ’n aansienlike verskuiwing van hulpbronne vereis. En dit is iets wat universiteite weens beperkte hulpbronne nie kan bestuur nie. Dit is om hierdie rede dat ’n gesamentlike poging deur verskeie universiteitskantore, regeringsagente en gemeenskapslede nodig is om die las van studente te verlig, veral dié in voorheen benadeelde groepe en ander wat in kwesbare groepe val. Die optrede van hierdie individue kan die lewenspad en koers van studente op kampusse betekenisvol beïnvloed.