Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 3 | Somer 2018

Om mee te begin, glo ek nie dat paniekerig raak en wegkruip ʼn billike opsie is nie. Ons doen tasbare stappe, soos die volgende:

Ons weet dat skenkings nie sommer net gebeur nie. Dit moet verdien word. En daar is niks beter as ʼn resessie om hierdie punt te beklemtoon nie. Ons fondswerwers het die aantal vergaderings met huidige skenkers vanjaar verdubbel, en daarop gefokus om impakverslae (waar toepaslik) aan ons skenkers te verskaf. Daar is ook gefokus op die ontwikkeling van ons nuwe klanteverhoudingsbestuurstelsel (KVB-stelsel) wat ons sal help om meer doeltreffend te wees.

Ons voorstelontwikkelaars het die geleentheid aangegryp om ons beweegredes vir skenkings te hersien. Ons moet seker wees dat u, as skenkers, die dringender behoefte aan u vrygewigheid teenoor ons studente (voorgraads en nagraads) in hierdie moeilike tyd, sowel as die talle praktiese stappe wat ons doen om hulle sukses te verseker, verstaan.

By ons is dit sake soos gewoonlik, ongeag die ekonomiese omstandighede. Ons kan nie ophou fondse werf nie. Die enigste regverdigbare, saaklike manier om op ʼn ekonomiese krisis te reageer, is om te besef dat fondswerwing voortgesette belegging en volgehoue sorg vereis. Ons was versigtig met ons raad oor die skenking van aandele en bates, belastingbeperkinge en -voordele, die perke op bemakings, borgskapvoordele en dies meer. En ons sal steeds in die jare wat voorlê dieselfde steun voorsien.

Ons het onlangs ʼn groter poging aanlyn aangewend met portuurgroep-inisiatiewe deur GivenGain in ons onlangse #Move4Food- en ander veldtogte te gebruik. Ons dryf die boodskap deur sosiale media aan en het ʼn aanlyn stelsel op die Universiteit se webtuiste geskep om dit makliker te maak om te skenk.

Ons weet dat daar regoor die wêreld biljoene aanlyn ingesamel word. Maar die grootste deel van daardie geld gaan na humanitêre hulporganisasies soos die Rooi Kruis, die Heilsleër en UNICEF; na die hoëprofiel- presidensiële verkiesingsveldtogte in Amerika (veral Barack Obama s’n); en tot ʼn mindere mate na die voorste voorspraakorganisasies, soos Amnestie Internasionaal en Greenpeace. En al daardie biljoene, ongeag hoe groot die getalle ookal lyk, verteenwoordig slegs ʼn breukdeel van ons algemene filantropiese inkomste – ongeveer een persent in ons geval.

Aanlyn fondswerwing alleen is nie die redding van fondswerwing in ʼn moeilike ekonomie nie. Maar die aanlyn opsie hou vele voordele vir fondswerwers sonder winsbejag in, waarvan die meeste niks direk met geld te doen het nie: Dit lok jonger ondersteuners, dit bied aan ons belanghebbendes geleenthede om aan ons werk deel te neem, en dit versterk pleidooie wat deur ander kanale gestuur word, om slegs drie te noem. Ons belê dus in aanlyn kommunikasie, omdat ons glo dat dit uiteindelik vrugte sal afwerp, korttermynfondswerwingspogings versterk en die grondslag vir ʼn vooruitstrewender toekoms sal lê.

So verloop fondswerwing gewoonlik aan die meeste universiteite: Die kommunikasie-afdeling stuur ʼn aanlyn tydskrif aan ʼn betrokke alumna wat die universiteit se suksesse vir die kwartaal of jaar skets; en die instelling se drome oordra – as daar maar fondse beskikbaar was. Die letterefakulteit stuur ook hulle nuusbrief aan haar en lewer ʼn paar maal per jaar pleidooie. Die universiteit se jaarfonds kry studente om dié alumna te skakel (aangesien dit student-gedrewe is). Die geskiedenisdepartement (haar hoofvak) word 65 en stel ook voor dat ʼn geskenk toepaslik sou wees. So ook die nagraadse skool vir sosiale wetenskap (waar sy haar PhD behaal het). En so kan ek aangaan. Is dit ʼn wonder dat so baie universiteite kla oor hulle alumni se lae deelnamekoers aan die jaarfonds? Ek is self meer as ʼn bietjie bekommerd oor ons s’n, kan ek u vertel.

Hierdie werklikheid, wat tot ʼn sekere mate ook geld vir duisende organisasies sonder winsbejag en ander instellings, pleit om ʼn ‘skeidsregter’ om die botsings van al daardie boodskappe te beperk. Dit is iets waaraan ons werk. Ons is besig om ʼn mate van gesentraliseerde skedulering vir al hierdie mededingende afdelings in te stel, om die irritasie van skenkers te vermy en te verminder. As ons skenkings en die deelname van alumni wil verhoog, veral onder die huidige ekonomiese omstandighede, is dit noodsaaklik dat ons op die ontwikkeling van ʼn werklike geïntegreerde fondswerwingsprogram, die werwing van vriende, en kommunikasie fokus.

Ekonomiese probleme skep wel ook veelvuldige geleenthede vir waagmoedige fondswerwers wat met ʼn bietjie kreatiwiteit en goeie verhoudings met ons kollegas in die verskillende afdelings, kan demonstreer waar tasbare maatskaplike verandering, vernuwing en/of entrepreneurskap met net ʼn klein bietjie meer steun kan plaasvind.

ʼn Onlangse navorsingsuitstalling met internasionale vennote en intellektuele ‘rocksterre’ op ʼn gebied van nasionale belang, het die geleentheid gebied om met nuwe skenkers, plaaslik en internasionaal, in interaksie te tree oor ʼn aantal kleinerige skenkings van tussen R60 000 en R500 000. Die geleentheid het diegene met ʼn belangstelling in die Universiteit in staat gestel om die wonderlike werk wat ons doen, te sien. Gegewe die sukses van die mediadekking, die nasionale eerbewyse en die impak van die navorsingsuitstalling (met honderde internasionale gaste en baie skenkers teenwoordig), hoop ons dat hierdie soort ingryping selfs meer vrugte sal dra.

En van vrugte gepraat, mag u ʼn hartlike en wonderlike feesseisoen beleef – hetsy met waatlemoen of okkerneute, Kerspoeding, of kaneel-en-appelkoek met Hanukkah.

Op die volgende 100 jaar van die Universiteit! En nog vele jare in vennootskap met u. U weet dat ons dit nie sonder u kon doen nie. Niks daarvan nie. En ons sou ook nie wou nie.

Karen Bruns

Senior Direkteur: Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge

kbruns@sun.ac.za

021 808 4895