Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2020

Chanine, wat tans as ’n programbestuurder by Facebook in Londen werk, het versoek dat haar skenking in enige van die vyf fokusareas wat deur die Universiteit geïdentifiseer is, gebruik moet word.

Hierdie gebiede sluit in die uitbreiding van digitale toegang om die digitale kloof te oorbrug, die skep van voedselsekuriteit via ons #Move4Food-veldtog, ondersteuning aan die US se gesondheidsorgwerkers in die voorste linies van die pandemie werk, steunverlening aan ons navorsers en hulp aan die breër gemeenskap van Stellenbosch.

Ons het Chanine ’n bietjie beter leer ken.

Vertel ons meer oor jouself.

Ek het die voorreg gehad om groot te word omring deur die Stellenbosse berge. Ek het my skoolloopbaan aan die Laerskool Stellenbosch begin, en daarna die Hoër Meisieskool Bloemhof bygewoon, waarna ek in 2012 as Matie klaargemaak het toe ek my BA in Bedryfsingenieurswese behaal het. Die jare wat ek op Stellenbosch as Matie deurgebring het (2009–2012), is beslis die hoogtepunt van my lewe, aangesien ek lewenslange vriende gemaak het en akademies en sosiaal soveel geleer het.

Watter soort werk doen jy?

Ek het my loopbaan as prosesingenieur by Deloitte Consulting in Johannesburg begin. Deloitte het my ’n gulde geleentheid gebied om ’n jaar in Skotland af te lê. Ná Skotland het ek besluit om aan hierdie kant van die wêreld te bly, omdat dit soveel meer toeganklik en bekostigbaar was om van hierdie kant af die wêreld te deurreis en te verken. Daarom het ek na Dublin verhuis waar ek drie jaar by Deloitte Consulting in Ierland gewerk het. Aan die begin van hierdie jaar het ek na Londen verhuis om vir Facebook as programbestuurder in die departement sakebeplanning en ‑bedryf te werk. Facebook is ’n ongelooflike maatskappy om voor te werk en gee regtig vir sy werknemers en die gemeenskap om.

Waarom skenk jy?

Skenkings is iets wat ek as ’n noodsaaklikheid beskou om te verseker dat meer mense die geleenthede kry wat ek gehad het toe ek groot geword het. Die grootste deel van my skenkings is vir organisasies in Suid-Afrika, want dit bly my huis en die behoefte is eenvoudige so groot. Skenkings is nie vir my ’n manier om weg te hardloop van al die probleme waarmee ons land te kampe het nie, maar eerder om ons land te help opbou deur ons mense en organisasies toe te rus wat veg om die armoedesiklus te verbreek. Dit is soos om terug te ploeg wanneer ek tyd of geld aan mense gee om na hul gesinne en gemeenskappe te kan omsien.

Hoe lank is jy al ’n donateur?

Ek sou sê dat ek op verskillende wyses teruggeploeg het wat geld en tyd betref. Terwyl ek in Johannesburg gewoon het, het ek my tyd aan twee graad 11-seuns van die Alexandra-township gewy deur motivering en steun te verleen in hul laaste twee skooljare. In die tyd wat ek saam met hulle deurgebring het, kon ek regtig sien hoe die seuns se vertroue en hoop op ’n beter toekoms groei, want voorheen het hulle nie ’n toekoms buite die skool gesien nie. Al twee die seuns het met goeie punte gematrikuleer en studeer vanjaar. Ek het nog altyd hier en daar geld geskenk, maar het vanjaar aan verskillende liefdadigheidsorganisasies in Suid-Afrika, waaronder die Rooi Kruis en die Universiteit Stellenbosch, begin skenk. Ek het gou besef dat die pond-rand-wisselkoers ver gaan en ’n groot verskil aan die lewe van mense in Suid-Afrika maak.

Waarom het jy gekies om die Universiteit Stellenbosch in hierdie stadium te ondersteun?

Ek glo in die mag van opvoeding, omdat dit meer mense in staat stel om die geleenthede te hê wat ek gehad het en om genoeg geld te verdien om na hulself en hul gesinne of gemeenskappe om te sien.

Sal jy ander aanmoedig om ook te skenk?

Ja, ek moedig ander altyd aan om te skenk en het twee kroegvasvrae vir liefdadigheid gereël om my niggie te help wat spesiale behoeftes het, en dít het my geleer dat die geringste dingetjie help en dat mense regtig omgee en gee! Dit is iets wat ek by die Iere geleer het, en natuurlik dat daar voortdurend ’n liefdadigheid is om te ondersteun.

  • Klik hier vir meer inligting oor die Universiteit se COVID‑19‑respons.