Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2020

Feenix is in Junie 2017 van stapel gestuur in reaksie op die #FeesMustFall-beweging wat in 2015 en 2016 oor kampusse in Suid-Afrika heen versprei het. Hierdie beweging het die lig gewerp op die hoë koste van tersiêre onderrig en die invloed wat finansiële druk op studente se sukseskoers het. Sedert Feenix in 2017 begin is, het meer as 1181 studente altesaam meer as R39 miljoen ten bate van hul fondsinsamelingdoelwitte ingesamel deur hul Feenix-profiele via sosiale media, WhatsApp en e-pos te deel. Met hierdie profiele bemark hulle hulself aan potensiële befondsers.       

“Die studente gebruik hul eie stem om hul fondsinsamelingsprofiel te skep en te deel, en leer só belangrike vaardighede aan terwyl hulle verantwoordelikheid neem vir hul eie narratief. Individue of besighede wat by die Feenix-gemeenskap aansluit, kan verseker wees dat hulle in studente belê wat bereid is om te doen wat nodig is om sukses te behaal,” sê Cara-Jean Petersen, Feenix se bestuurder vir studentebetrokkenheid.    

Lebohang – ’n mediese student in sy 4e jaar aan die Universiteit Stellenbosch en die eerste van sy gesin wat ’n matrieksertifikaat behaal en toelating tot ’n hoëronderwysinstelling verkry het – skryf byvoorbeeld:

“Ek is ’n baie hardwerkende en hoopvolle individu ten spyte van my nederige agtergrond. Ek het gekies om medies te studeer omdat ek ’n brandende begeerte en passie het om ’n verskil te maak en ook as gevolg van die gebrek aan toegang tot gesondheidsorg wat mense in my tuisdorp Phuthaditjhaba in die Vrystaat en Suid-Afrika in sy geheel elke dag ervaar. Ek kan dalk nie al die probleme oplos waarmee ons gekonfronteer word nie, maar die vooruitsig om deel van die oplossing te wees, maak my opgewonde.”        

Oor die afgelope paar jaar is altesaam 25 studente aan die Universiteit Stellenbosch befonds met R965 375 wat aan die universiteit uitbetaal is. Geld wat aan ’n universiteit uitbetaal word, hang af van die sukses van elke student se fondsinsamelingpogings en korporatiewe skenkings wat aan studente toegeken is. Die universiteit wat tot op hede die hoogste bedrag ontvang het, het R15 317 170 ontvang, wat 369 studente befonds het.

Feenix maak voorsiening vir nagraadse studente, studente wat studenteskuld moet afbetaal om graad te kry, en studente in die “ontbrekende” middelklas wat uit huishoudings kom met ’n gekombineerde inkomste van tussen R350 000-R600 000 per jaar. Hierdie studente word beskou as ‘nie arm genoeg vir NSFAS nie, maar nie ryk genoeg om tersiêre onderrig te bekostig nie’.

Belangstellende donateurs kan studente wat hulle wil ondersteun op die Feenix-platform identifiseer. Deur dit te doen, stel hulle studente in staat om hul gemeenskap verder as hul eie geografiese ligging en onmiddellike netwerke en gemeenskappe uit te brei.     

“Dit is ons kans om saam te werk en verdienstelike universiteitstudente te vind en te ondersteun sodat ons die huidige onderwysbefondsingkrisis die hoof kan bied. Statistieke wys dat individue met grade ’n beter kans het om werk te kry en befondsers kan hul deel doen om seker te maak dat jong Suid-Afrikaners skuldvry gradueer,” verduidelik Cara-Jean.

Alle bona fide-skenkings kwalifiseer vir belastingvoordele en alle geld wat ingesamel word, word direk aan universiteite betaal. Daar is dus geen kans dat studente hierdie geld vir enigiets anders as hul voorgenome doelwit kan gebruik nie. Feenix is ook ’n doeltreffende kanaal vir korporatiewe befondsers om hul fondse vir vaardigheid- en sosio-ekonomiese ontwikkeling te bestee.

Vanweë die huidige COVID-19-situasie, sal Feenix se bedrywighede vir die volgende twaalf weke daarop gemik wees om skootrekenaars, kos en data te bekom en geld daarvoor in te samel, om behoeftige studente te verifieer, verspreidingsvennote te vind en hierdie hulpbronne aan studente te versprei wat dan hul studies sal kan voortsit.