Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2020

Die enorme belegging wat die Suid‑Afrikaanse regering in die fasilitering van toegang tot finansiële hulp deur die Mediumtermyn‑bestedingsraamwerk (MTBR) maak, is daarop gemik om die ondeurdringbare ekonomiese gaping te verklein en individue uit armoede‑geteisterde huishoudings te laat uitstyg.

Statistieke dui daarop dat hierdie maatskaplike belegging goeie opbrengste lewer. Die positiewe impak word sowel in die beduidend hoër deurvloeivlakke (10% hoër) as in die laer uitvalvlakke (10% laer) van NSFAS‑befondsde studente in vergelyking met die nasionale kohort weerspieël. Die omvang van hierdie belegging word geïllustreer deur die feit dat studente wat deur NSFAS befonds word, ongeveer 42% van die ingeskrewe studente op universiteit en 70% in Tegniese en Beroepsonderwys en Opleiding (TBOO) uitmaak, welke skema in 2019 aan meer as 650 000 studente hulp verleen het.

Daar is egter erken dat die organisasie probleme ondervind, wat tot die besluit gelei het om  NSFAS in 2018 onder administrasie te plaas. Minister Naledi Pandor het dit by die aankondiging van die administrateur se aanstelling duidelik gemaak dat die redding van NSFAS slegs volhoubare uitkomstes sal lewer indien die teenstrydighede, wanadministrasie en ondoeltreffendhede in die hoëronderwyssektor gesamentlik reggestel kan word.

Dit is van groot belang om na te dink oor die sektorale impak wat die administrateur die afgelope 21 maande teweeg gebring het. Ondanks onbetroubare en swak ontwerpte stelsels, het NSFAS die nodige stabiliteit bereik om voorspelbare en tydige uitbetalingsiklusse gedurende 2019 te verseker. Onreëlmatige uitgawes ten bedrae van R7,5 miljard vir die periode voor administrasie is gekwantifiseer, en tot dusver is 40% van die 440 000 rekords reggestel. Na afloop van forensiese ondersoeke is misdaadsindikate, korporatiewe wanbestuur, bedrog en korrupsie uitgewys. Personeellede is ontslaan en kriminele aanklagte is aan gespesialiseerde vervolgingsinstansies oorhandig. Mnr Mamagase Elleck Nchabeleng, voorsitter van die parlement se gekose komitee vir Onderwys, Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur, het die volgende gesê: “Die NSFAS is nou ’n entiteit wat kan prioritiseer. Bepaalde misdaadsindikate wat binne NSFAS werksaam was, is by wetstoepassingsagentskappe aangemeld.”

Maatreëls ingestel

NSFAS was ontdaan van prosesse en gehalte was ’n vreemde begrip daar. Dit was dus belangrik dat kritiese prosesse tydens die administrasieproses uiteengesit word en dat beleide en standaard bedryfsprosedures binne ‘n ISO9000‑raamwerk ontwikkel word. ’n Topswaar bestuur het die tegniese mensekapitaal in getalle oortref, wat beteken het dat alle vakatures gevries is en fondse vir tegniese kapasiteit in inligting‑ en kommunikasietegnologie (IKT), bestuur, en risiko‑ en finansiële bestuur afgekamp is.

Sterker finansiële kontroles bied nou rekonsiliasie van rekeninge op studentevlak. Dit het instellings gedwing om rekeningkundige dissipline te handhaaf en rekenpligtigheid te bewerkstellig. NSFAS se herkonfigureerde data‑argitektuur, verbeterde IKT‑bestuur en die disintermediasie van derdepartye het die korrupsie van data tot ’n minimum beperk en data‑uitruilprotokol en kuberveiligheid verbeter.

Kommersiële belange wat waarde uit die uitbetalingsketting geërodeer het, is verwyder. Die ondeurdagte koopbewysskema wat aankope in stryd met die teenmededingingswetgewing aan voorkeurondernemers gerig het, is geskrap en deur kontantuitbetalings vervang. Dit het kontroversie ontlok, met aantygings dat studente te onvolwasse was om kontant te bestuur en mediaberigte wat toon hoe studente drink en fees vier nadat hulle hul toelaes ontvang het. Hierdie patronisasie ten opsigte van swart studente is in bedwang gebring.

Indien hierdie maatreëls nie reeds in plek was nie, sou die COVID‑19‑pandemie die skema waarskynlik veel groter skade berokken het. Die inperking was inderdaad traumaties en met die verslapte regulasies moes daar ’n balans gevind word tussen die red van lewens en die voorkoming van ’n rampspoedige ekonomiese ineenstorting. Vir vele persone in leierskapposisies het COVID‑19 egter ’n tyd vir introspeksie gebied en die geleentheid gegee vir die heraanwending van organisasies ten einde tot beter diens vir die mensdom te wees. Die COVID‑19‑pandemie het die naskoolse onderwys‑ en opleiding‑ (NSOO‑)stelsel die geleentheid gebied om lank gehuldigde paradigmas uit te daag, innovasie te bespoedig en burokratiese onverskilligheid te bowe te kom.

In die 21ste eeu

In samewerking met die Sektorale Onderwys‑ en Opleidingsowerhede word daar byvoorbeeld skerper op die sogenaamde “verlore middelgroep” (uit werkersklasgesinne) en die nagraadse studentegroep gefokus, met ’n beter passing wat die toelaestruktuur betref. Opgeknapte gestruktureerde verwysingstelsels lewer ’n belangrike bydrae tot die gespesialiseerde vaardigheidsuitset van die NSOO‑stelsel.

Die COVID‑19‑krisis het debatte ontketen oor hoe die gebruik van tegnologie die pedagogiese praktyk gedurende en ná die inperkingstyd kan aanvul en groter billikheid tussen universiteit- en TBOO‑studente kan bewerkstellig. Tegnologiese instaatstellers wat TBOO‑pedagogiek betref, sal TBOO‑studente beter vir ’n moderne ekonomie toerus. Minister Blade Nzimande het die besluit om digitale toestelle aan alle begunstigdes van NSFAS te verskaf as ’n moedige stap beskryf.

Tydens die COVID‑19‑inperking het NSFAS merkwaardige besigheidskontinuïteit gehandhaaf en ’n virtuele bedryfsmodel aanvaar. Die parlement se gekose komitee vir Onderwys, Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur sê: “Ons is tevrede met die doeltreffendheid waarmee die NSFAS‑administrateur die entiteit bestuur, selfs tydens die COVID‑19‑pandemie. Geloofwaardige werk om die finansiële steunskema vir studente te stabiliseer word gedoen en dit word bewys deur die toelae wat aan studente toegewys word.”

In die geval van NSFAS was die COVID‑19‑krisis nie verniet nie. Dit het tot noodsaaklike refleksie oor die toekoms gelei en innovasie op die voorgrond geplaas, waardering vir tegnologiese winste van die vierde industriële revolusie versnel en die institusionele belyning verbeter. Gevolglik is die Suid‑Afrikaanse NSOO‑stelsel as ’t ware met ’n geskop en ’n geskree die 21ste eeu ingedwing.