Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2020

Hierdie digitale kloof is aansienlik vernou met ’n skenking van die Ball‑familiestigting aan een van die vyf kernareas van die Universiteit Stellenbosch (US) as deel van die nuut gestigte COVID‑19‑hulpfonds.

“Die Universiteit Stellenbosch is deeglik bewus daarvan dat toegang tot aanlyn leer groot uitdagings vir vele van ons studente inhou, en daarom het ons maniere gevind waarop ons al ons studente kan ondersteun om in 2020 met hul studies voort te gaan en hulle die beste moontlike kans te bied om te slaag,” sê Sarah Archer, Direkteur van Fondswerwing in die Afdeling Ontwikkeling en Alumni‑betrekkinge.

“In reaksie op die behoefte van studente wat aangedui het dat hulle nie toegang tot rekenaars tuis of in hul koshuise het nie, het die US daarin geslaag om 1 500 skootrekenaars te bekom wat op ’n leenbasis aan studente voorsien sal word. Dit is egter ’n tydelike oplossing wat studente aan die einde van die akademiese jaar weer kwesbaar maak vir digitale uitsluiting wanneer hulle die toestelle moet teruggee,” sê Archer.

“Danksy die ruimhartigheid van ons jarelange vennoot, die Ball‑familiestigting, kon ons vir sommige van ons studente ’n skootrekenaar skenk, wat hulle tydens hul studies en daarna kan gebruik.”

Die Ball‑familiestigting ondersteun al vir jare akademies sterk studente uit agtergeblewe agtergronde aan die US, en die jongste gebaar van die Stigting om minderbevoorregte studente te help, het die Universiteit in staat gestel om die digitale kloof tussen studente te vernou.

“Hul jongste gebaar verseker dat sommige van ons kwesbaarste studente deurlopend toegang tot tegnologie het, wat hulle toegang tot aanlyn studiemateriaal en ander digitale hulpbronne bied om hulle tydens hul studies behulpsaam te wees. En hiervoor is ons oneindig dankbaar,” sluit Archer af.

  • Klik hier vir meer oor die Universiteit se COVID‑19‑respons.