Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2020

Kamilah, wat van Mitchells Plain in die Wes-Kaap kom, het in 2019 ’n BCom in Ekonomie behaal en doen tans haar honneurs in Vervoerekonomie aan die US. “Teen die einde van die jaar (2019) was ek bekommerd omdat ek ’n enorme bedrag uitstaande skuld gehad het. Maar danksy die Harry Crossley-stigting, wat op die laaste oomblik aangebied het om my klasgeld te vereffen, was ek in staat om my graad te behaal sonder enige uitstaande skuld.”

Die Harry Crossley-stigting het in Desember 2019 meer as R500 000 geskenk om studieskuld aan die US te verlig. Hierdie skenking het 20 talentvolle graduandi gehelp om hul nagraadse studie voort te sit of die wêreld van werk te betree sonder die swaard van uitstaande skuld wat oor hul kop hang.

“Dit is so bevredigend dat ons studente met selfvertroue die volgende stadium van hul lewe kan begin,” sê Hugo Steyn, Bestuurder: Individuele Skenking, aan die US.

“En dit is moontlik gemaak deur die Harry Crossley-stigting, wat net soos ons daarin glo dat hoër onderwys ’n belangrike vorm van bemagtiging is. Die Stigting is een van ons grootste ondersteuners en dra al vir meer as 40 jaar by tot beursprogramme en navorsing aan die Universiteit.”

Linda Whitfield van die HCS sê die verligting van studieskuld is een inisiatief waarop sy as verteenwoordiger van die Stigting die trotste is. “Ons bied beurse aan nagraadse studente, maar ons het bewus geword van die situasie wat jong gegradueerdes met skuld ná die verwerwing van hul graad in die gesig staar.

“Harry Crossley was van mening dat studente hulself moet bewys om befondsing van sy Stigting te bekom. Om te gradueer terwyl jy bekommerd is oor finansies, vereis moed en ’n sterk karakter. Hierdie studente het hulself met reg bewys. Dit is werklik aangenaam om sulke individue te help om sonder ’n skuldlas vorentoe te beweeg en die volgende fase van hul lewe met sekerheid te betree.”