Oor die volgende 11 jaar sal die Universiteit Stellenbosch (US) se Rita Huysmantrust ongeveer 20 US-studente per jaar help wat bykomende fondse benodig om in hul basiese behoeftes, soos kos en toiletware, te voorsien.
Hierdie fondse sal onder die oorkoepelende #Move4Food-program val. Dié program is gemik op studente wat bystand deur die Sentrum vir Studenteontwikkeling en -berading soek. Die Beurse en Lenings-kantoor kan ook aanbevelings maak.
Voedselonsekerheid en die behoefte aan die mees basiese items kom al hoe meer onder studente in Suid-Afrika voor.
"Die algemene opvatting is dat studente in nood finansiële hulp sal ontvang wat al hul universiteitskoste dek," sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge by die US.
“Ongelukkig is dit nie waar nie. Daar is beperkings op elke uitgawekomponent, soos onderrig, akkommodasie en kostoelae. Dit lei tot tekorte waarvoor die student steeds verantwoordelik is,” verduidelik sy.
Die verknorsing van studente wat finansieel sukkel, het ’n paar jaar gelede onder die aandag van Daniel Revyn en sy tweede vrou, Marie-Rose, gekom toe hulle van ’n Matie-student gehoor het wat nie toelating vir die volgende akademiese jaar kon kry nie omdat sy uitstaande skuld gehad het.
“Ons was geskok dat so iets moontlik was. Ná ’n bietjie navorsing het ons met Candice Egan by die US se kantoor vir Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge geskakel om betaling van die student se vorige skuld te reël en om vir haar kos te betaal totdat sy gegradueer het.”
Hoewel Daniel, ’n afgetrede sakeman en MBA-gegradueerde van die Katholieke Universiteit Leuven (KUL), baie vriende het wat verbintenisse met die US het, het hy self geen formele verbintenis met die instelling nie.
Hy en Rita was egter mal oor Suid-Afrika.
“As ’n student aan KUL het ek deelgeneem aan die protesoptogte om Nelson Mandela vry te laat. Ek beskou Madiba as een van die min helde wat die wêreld ooit gehad het. In 2000 het ek ’n huis vir my vrou, wat baie lief was vir Suid-Afrika, laat bou. Van 2000 tot 2006 het ons drie tot vier maande per jaar in Shelley Point deurgebring om die Belgiese winter te ontsnap – totdat sy in Mediclinic Panorama gesterf het.”
Ná Rita se dood, het Daniel aangehou om Suid-Afrika te besoek en het hy ’n projek gesoek om sy vrou te huldig. Hy het besluit om ’n trust in Rita se naam te stig en die opbrengs van die verkoop van die Shelley Point-eiendom aan die trust te skenk. Die opbrengs sal alles aan twee begunstigdes gaan, te wete die US en BIA (Born in Africa). Laasgenoemde is ’n projek wat 16 jaar gelede deur Vlaamse mense begin is om onderwys- en sosiale bystand aan skoolkinders en jong volwassenes in die Bitou-gebied te bied. Die US sal R3 miljoen uit die verkoop ontvang.
Daniel glo onderwys is die basiese reg van elke kind en die sleutel tot vooruitgang vir die land.
"Ons praat uit ondervinding,” sê hy. “Ek en Marie-Rose is produkte van die ommekeer wat ná die Tweede Wêreldoorlog in België plaasgevind het. ’n Regeringsbeursprogram het kinders en jongmense in staat gestel om te studeer, ongeag hul agtergrond. Voor dit kon net ryk mense dit bekostig om universiteit toe te gaan. En nou is België se hoof- ekonomiese bate ons breins.”
Sy passie vir Suid-Afrika leef voort, ondanks die land se uitdagings.
"Daar is egter dinge wat besig is om te verbeter, en dit gee ons hoop,” voeg hy by. Hy glo dit sal twee generasies neem voordat die huidige verbetering in onderwys resultate oplewer. En die Rita Huysmantrust sal gewis tot hierdie proses bydra.