Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2020

In ’n samewerkingsprojek druk ’n span in die Departement Meganiese en Megatroniese (M&M) Ingenieurswese kopbande vir plastiese gesigskerms wat tydens COVID-19 as beskermende toerusting vir gesondheidsorgwerkers gebruik kan word. Hierdie projek word onder leiding van dr Rudolph Venter, ’n ortopediese chirurg en dosent in kliniese anatomie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, uitgevoer. Dr Venter het M&M genader met die versoek om die Departement se addisionele 3D-drukkers aan die Fakulteit beskikbaar te stel.

“Die finale produk bestaan uit ’n deursigtige plastiekplaat en ’n rekkie wat aan die onderdele (kopbande) wat ons gedruk het, aangebring is,” verduidelik Kevin Neaves, wat die 3D-drukwerk van die kopbande in M&M hanteer. “Die kopbande word gewoonlik in ’n stapel van vier gedruk om die aantal kere wat ’n mens by die masjien hoef aan te doen, te verminder. Die stapel word dan opgedeel en, indien nodig, word ’n geringe regstelling aan die oppervlakke gedoen.” Die finale samestelling van die skerms word op die Tygerbergkampus deur ’n groep in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gedoen.

“Ons het onlangs ’n skenking van die Harry Crossley-stigting, ’n jarelange vennoot van die Universiteit, ontvang en daarmee kon ons ’n ekstra drukker en verbruiksgoedere aankoop. M&M het nou vyf drukkers vir hierdie projek. Die Universiteit poog om gesamentlik alles teen Covid-19 in te span en om die gemeenskap te beskerm. Dit is waarlik inspirerend om te sien hoe die vaardighede, kennis en tegnologie vir hierdie goeie doel saamkom,” sê Neaves.

Tot dusver is daar meer as 500 kopbande by M&M gedruk. Dit kom neer op meer as 7 km‑filament en meer as 1 000 uur se druktyd, en met die ruim steun van die Harry Crossley‑stigting sal ons die produksie aansienlik kan verhoog.

  • Die samestelling van die drukker en die eerste drukeksemplaar is hier te sien.
  • Klik hier vir meer inligting oor die Universiteit se COVID-19 response.