Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

Die mees onlangse belegging deur die BANKSETA – R5.8 miljoen in 2021 – sal die deure van hoër onderwys vir selfs nog meer talentvolle studente oopmaak.

BANKSETA is 'n statutêre liggaam gevestig deur die Wet op Vaardigheidsontwikkeling van 1998 om sy belanghebbendes in staat te stel om die nasionale en globale posisie van die bank- en mikrofinansiering sektor te bevorder. BANKSETA bevorder, soos gelei deur sy mandaat, billike indiensneming en breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging, en ondersteun die ontwikkeling van mense deur middel van vennootskappe, vaardigheidsontwikkeling, die verligting van werkloosheid en die skep van ’n blinker toekoms.

"Die beurse wat deur die BANKSETA-bydrae befonds word, spruit uit die Projek Zero-inisiatief wat in 2016 as ’n spesiale inisiatief van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gevestig is. Hierdie inisiatief, in sy nuwe formaat, word ingevolge dieselfde etos as vorige jare bedryf, waar beursondersteuning gegee word aan talentvolle studente uit swakker sosio-ekonomiese omstandighede (insluitend sogenaamde “verlore middelgroep”-huishoudings) wat nie die nodige fondse kon kry om hul volledige onderrigkoste en geassosieerde studiekoste te dek nie," verduidelik Candice Egan van die US se Afdeling vir Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge.

"Die Fakulteit besef dat studente baie spanning ervaar wanneer hulle nie die finansiële hulpbronne het om die koste wat met universiteitstudie gepaardgaan, te dek nie, en dat dit ’n negatiewe impak op hul akademiese prestasie het. Deur hierdie projek kry studente ’n unieke geleentheid om die arbeidsmark te betree met ’n tersiêre kwalifikasie en sonder enige skuld."

Die beurs dek volledige onderrigkoste, verblyf, maaltye en boekgelde.

"Die doelwit van die projek, soos in BANKSETA se doelstellings uiteengesit word, is om die diversiteit van studente wat die skaarsvaardigheidgaping in die finansiële sektor oorbrug, te verhoog. Die beurse verseker dat begunstigdes, wat dikwels die eerste lid van hul gesin is om by ’n universiteit in te skryf, kan studeer sonder om oor hulle oor die koste te bekommer," voeg Egan by.

Volgens BANKSETA-projekbestuurder Nobuzwe Mangcu is die primêre fokus van die BANKSETA se verhouding met die US die verbintenis van albei partye om een van die BANKSETA se belangrike strategiese fokusareas, naamlik jeugontwikkeling, te implementeer.

"Die SETA se samewerking en vennootskappe met hoëronderriginstellings is voordelig om vaardigheidsontwikkelinginisiatiewe te bevorder deur leer- en opleidingingrypings wat tans, en in die toekoms, deur die banksektor benodig word. Die BANKSETA is daarvoor verantwoordelik om transformasie in leer- en werkomgewings te ondersteun en deur die Memorandum van Verstandhouding wat onderteken is, is die Universiteit ’n aktiewe vennoot in die proses om gestelde transformasieteikens te bereik."