Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

Petra het verlede jaar met ’n graad in Rekeningkunde (BRek) gegradueer en studeer nou vir ’n honneursgraad in Rekeningkunde. Hierdie toppresteerder, wat by Hoërskool Duineveld gematrikuleer het, moes ’n studentelening aangaan om haar studies te finansier.

"Die beurs het hoop gebring in ’n tyd van ongelooflike onsekerheid vir my en my gesin,” verduidelik sy.

"Beurse bied geleenthede aan diegene wat dit nie het nie en help studente om op hul studies te fokus en hul potensiaal te bereik sonder ’n finansiële las wat swaar op hulle druk."

Petra het onderskeidings verdien vir elke vak gedurende haar voorgraadse studies en beplan om haar leerkontrak te begin en as ’n geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer sodra sy haar nagraadse studies voltooi het.

Volgens nog ’n beurshouer, Sha-baan Slamang, weet hy nie hoe hy oor die weg sou gekom het sonder die ondersteuning van die Dippenaar Familietrust nie.

Hy het ook in 2020 gegradueer en is nou deel van Shoprite Checkers se voorsieningskettingprogram vir gegradueerdes. Hy is ook vir sy meestersgraad aanvaar en beplan om voort te gaan om die ontwikkeling van opvoedingsbeleid te ondersoek.

Die Dippenaar Familietrust dra al vir die afgelope 25 jaar by tot ’n beter toekoms vir talentvolle Matie-studente. Hul bydrae in 2021 sal 25 studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe help.

Hul ondersteuning maak dit vir studente moontlik om op hul studies te fokus sonder om bekommerd te wees oor die finansiële implikasies. Die meeste beurshouers kom uit die "ontbrekende middel" – ’n term wat geskep is om na universiteitstudente te verwys wat nie vir finansiële hulp deur die staat kwalifiseer nie en wie se gesinne dit nie kan bekostig om vir hul studies te betaal nie.

Volgens Estelle Dippenaar is hulle passievol oor en kry hulle baie bevrediging uit die hulp wat hulle aan studente bied.

"Ons filantropie is heeltemal gerig op tersiêre onderrig. Hoe meer opgeleide mense daar is om die land te bestuur, hoe beter. ’n Graad kan iemand help om hul voet in die deur te kry, en daardie persoon word dalk eendag ’n besluitnemer in die land."

Die Dippenaars glo daarin om verhoudings met beurshouers te bou en bied elke jaar die Dippenaar Familietrust-ete aan. ’n Virtuele byeenkoms is in 2020 aangebied, maar Dippenaar hoop dat hulle hierdie jaar sal kan voortgaan met die geleentheid wat beplan word.

Wat veral vir haar vreugde verskaf, is die feit dat baie begunstigdes aandui dat hulle iemand eendag op ’n soortgelyke manier sal wil help. Sy vind hierdie kettingreaksie baie bevredigend.

In Petra se woorde: "Ek sou enigiemand wat tot só ’n saak kan bydra, aanmoedig om dit te doen. Dit sal verligting en vreugde aan baie gesinne verskaf en help om ’n beter Suid-Afrika met beter opgeleide burgers te skep."