Die volhoubaarheid van universiteite wentel om drie inkomstestrome: 'n staatsubsidie, studentegelde, en bedryfsnavorsingsfondse. Die afgelope twintig jaar het Suid‑Afrikaanse universiteite egter beduidende veranderings beleef.
Universiteite worstel om hul begrotings te laat klop omdat die regering, weens die toenemende uitdagings wat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) aan die staatskas stel, nie hierdie behoeftes en ambisies kan bekostig of befonds nie. Boonop het die regering in die afgelope vyf jaar 'n boperk op universiteitsgelde gestel om die groeiende vraag na NSFAS-subsidies vir minder gegoedes te bestuur. Dit beteken dat geen onmiddellike verligting in sig is via studentebydraes nie, selfs nie van die meer gegoede studente nie.
Boonop is navorsingsinkomste, die sogenaamde derdestroominkomste – in die vorm van navorsingskontrakte, steun vir navorsingsleerstoele en ‑sentrums, en projekte – noodsaaklik vir universiteite se oorlewing, of dit help minstens om hul inkomstestrome te diversifiseer en staatstoelaes aan te vul.
Die belangrikste aspek van navorsingsinkomste is dat personeelkoste gedeeltelik teen dié fondse verreken kan word en as studiebeurse aan nagraadse studente toegewys kan word. Die res van die inkomste is grootliks finansiële insette om navorsingsuitsette te vergemaklik.
Vanweë die regering se versuim het universiteite se kollaterale koste aansienlik uitgebrei ten einde uitgawes soos betroubare openbare vervoer vir personeel en studente te subsidieer, addisionele veiligheids‑ en sekerheidsmaatreëls te befonds, en akademiese steundienste ter gereedmaking van eerstejaarstudente te lewer.
Die regering, alumni en die bedryf loods soms striemende aanvalle op universiteite wat nie “meer ontwrigtend" is in hul soeke na aanvullende inkomstestrome nie, veral wanneer universiteite aanvoer dat die toelaes, gelde en navorsingskontrakte onvoldoende is om Suid-Afrikaanse universiteite in die “top liga" van internasionale universiteite te laat speel. So, wat dan van innovasie as 'n inkomstebron?
Binne Suid‑Afrikaanse universiteite nestel daar 'n groep redelik nuwe tegnologie‑oordragorganisasies (TOO's) wat gestig is in die konteks van wetgewing wat in 2010 in werking getree het, te wete die Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Staafsgefinansierde Navorsing en Ontwikkeling, 2008.
In die aanloop tot die Vierde Industriële Revolusie poog die meeste TOO's om innovasieruimtes by universiteite te skep wat entrepreneurs ondersteun. Die vraag is of hierdie TOO's tans 'n beduidende jaarlikse bydrae tot die inkomste van universiteite lewer, en of dit eerder deel van die droom vir die toekoms is?
Die verplasing van navorsing vanaf 'n laboratorium na die mark is ingewikkeld en duur. Boonop het daar sedert die inwerkingtreding van die Wet nog nie veel gekom van die droom van ellelange toue beleggers wat voor visekanseliers se deure saamdrom om belastingdoeltreffende waagkapitaalaandele te koop nie.
Deesdae hang die finansiële lewensvatbaarheid van universiteite af van die vermoë van visekanseliers om filantropiese en korporatiewe maatskaplik verantwoordbare skenkings, plaaslik en internasionaal, onder alumni, vriende, korporasies en stigtings te werf.
Om die effektiwiteit van fondsinsameling aan universiteite te verhoog, moet verskeie dinge reeds gedoen wees. Dit is noodsaaklik om 'n visie vir die universiteit op te stel en dit op te volg met optrede wat skenkers motiveer om by die visie aan te sluit. Wat vaardighede betref, is die praktiese toepassing van 'n leierskapstyl gegrond op die belang van persoonlike verhoudings fundamenteel.
Fondsinsameling is gewis een van die veeleisendste en sigbaarste rolle wat universiteitsleiers beklee en hulle moet 'n uitermate hoeveelheid tyd aan die insameling van privaat fondse bestee. 'n Studie in 2012 in die VS toon dat universiteitsleiers gemiddeld 3,85 dae per maand weg van die kampus aan die nakoming van reis‑ en fondsinsamelingspligte bestee, en dat hierdie pligte soveel as 20 dae 'n maand kan opneem indien die tyd dit toelaat.
In dieselfde studie sê 37,29% van die universiteitsleiers dat verantwoordelikhede ten opsigte van fondsinsameling óf die eerste óf die tweede plek onder hul werksverpligtinge beklee, terwyl 'n verdere 10,17% van die respondente hul pligte en verantwoordelikhede ten opsigte van fondsinsameling as 'n hoë prioriteit stel.
Die goeie werksverhouding tussen die visekanselier en die posisie se ontwikkelingshoof is noodsaaklik en volgens die aangehaalde studie praat 91,34% een keer 'n week of meer gereeld met hul hoofontwikkelingsbeamptes, terwyl meer as 19,69% daagliks gesprek voer.
By my eie instelling, die Universiteit Stellenbosch (US), het ons R1,7 miljard aan filantropiese fondse in die termyn van ons huidige Rektor en Visekanselier, professor Wim de Villiers (van Januarie 2015 tot einde Mei 2021) ingesamel, waarvan driekwart van alle donasies uit skenkings deur trusts en stigtings, individue en maatskappye bestaan.
Die betrokkenheid van ons Visekanselier het daartoe bygedra dat die getal nasionale en internasionale alumni-hubs sedert 2015 verdubbel het, wat effektief beteken dat netwerke vir ons gegradueerdes oopgemaak word. Prof De Villiers het ons eweknie‑fondsinsamelingsinisiatiewe gelei en in verskeie wedlope en ritte gedraf en fiets gery om fondse vir voedselonsekerheid op die US se kampusse (ons #Move4Food‑veldtog) in te samel.
Meer as 'n derde van die R1,7 miljard wat ingesamel is, gaan aan beurse en studentesteun, terwyl ander fondse vir onderrig, infrastruktuur, navorsing, en gemeenskapsdiens aangewend is. Ons het nuwe navorsingsentrums en onderriggeboue op ons kampusse opgerig en die diversiteit van ons akademiese en navorsingspersoneel deur strategiese befondsing uitgebrei.
Sedert 2015 maak die US se internasionale skenkers 'n groter deel van die totale skenkers uit – vanaf 13% van alle skenkers wat internasionale skenkers is, tot 17% net voor die aanvang van die COVID‑19‑pandemie.
Natuurlik verg fondsinsameling self ook geld, veral wat die internasionale ontwikkelingsaktiwiteite betref. In die geval van die US, toon 'n nasionale Inyathelo‑normstellingstudie, ASPIHE (jaarlikse opname van filantropie in hoër onderwys), dat die fondsinsamelingspan se begrotingsuitgawes hoogstens 11c van elke rand wat ingesamel word uitmaak. Verder het 'n onlangse onafhanklike studie deur die Buro vir Ekonomiese Navorsing in Stellenbosch bevind dat die fondswerwing van die US se Visekanselier 50 maal sy fondsinsamelingskoste ingebring het.
Die gesondheid van enige organisasie en die sukses van die fondsinsamelingspogings begin met leierskap. Sonder leierskap en sonder filantrope, groot en klein, kan dit nie bereik word nie – en word die droom van hoër onderwys as die groot gelykmaker onvervuld gelaat.
Universiteite lei die leiers en kundiges van môre op, en onderwys is 'n noodsaaklike belegging om individue in staat te stel om hul volle potensiaal te bereik en hul eie positiewe impak op die wêreld te hê. Filantropiese steun stel hulle in staat om dit te vermag.