Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

Volgens Pieter Swart, Direkteur: Groot Skenkings en Transformasionele Skenkings, by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, sal die Afdeling Beurse en Lenings die studente identifiseer wat dan befondsingshulp sal kry.

Swart het gesê die veldtog was 'n groot sukses en is goed ontvang deur alumni, inwoners van Stellenbosch en vriende van die Universiteit. Die veldtog het ook met 'n silwertoekenning weggestap by die jaarlikse Toekennings vir Uitnemendheid in Bemarking, Bevordering- en Kommunikasie in die Onderwys (MACE). Hierdie toekennings gee erkenning aan en vier die prestasies van spesialiste en praktisyns in bemarking, bevordering en kommunikasie in die hoëronderwyssektor in Suider-Afrika.

“Ons is so dankbaar vir elkeen wat 'n bydrae gelewer het! Jou skenking sal die spanning van uitstaande universiteitsgelde vir studente in die verlore middelgroep verlig wat deur die COVID-19-pandemie geraak is.”

Vanaf Augustus 2020 tot Maart 2021, is opwindende kunswerke op ’n aantal terreine in die dorp Stellenbosch uitgestal. Die uitstalling, wat gepas as Masked Masterpieces (Gemaskerde Meesterstukke) bekend gestaan het, behels gesogte Suid‑Afrikaanse kunswerke waarop maskers gesuperponeer is. Die kunswerke is almal in supergrootte formaat in die buitelug uitgestal, wat ’n kragtige visuele verteenwoordiging van die uitdagings van ons tyd kon bied.

Inligting oor die onderskeie kunstenaars en hul kunswerke, onder meer waar die oorspronklike kunswerke besigtig kon word en hoe skenkings via ’n SnapScan-kode of bankoorplasing gedoen kon word, is langsaan vertoon.

Die kunsinstallasies is geheel deur die privaatsektor befonds: die Beck‑familiefilantropie, die Fuchs‑stigting, Investec, die Norval‑stigting, die Rupert‑kunsstigting en Strauss & Co.

"Die werke het bekende bakens geword om ons te herinner aan ons groot artistieke erfenis. 'n Inwoner van Stellenbosch wat 'n ywerige fietsryer is, het selfs sy eie virtuele toer op die been gebring en die fietsryers in Stellenbosch uitgedaag om die kunswerke te besoek. Selfies is op sosiale media geplaas, 'n beperkte aantal A3-plakkate is gedruk en aan persone gegee en verkoop, stelle is na Suid-Afrikaanse ambassades in die buiteland gestuur en in hul openbare areas vertoon. Ons het ook gesigmaskers met die kunswerke daarop gedruk wat aan donateurs en vriende van die US gegee is as ʼn blyk van waardering vir hul ondersteuning, en ons het selfs inkopiesakke daarvan gemaak,” het Swart gesê.

“Aan die begin van die inperkingstydperk in Suid-Afrika het ons Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, dit duidelik gestel dat die Universiteit twee oorhoofse prioriteite het: om te verseker dat studente hul akademiese jaar suksesvol kan voltooi en om die volhoubaarheid van ons instelling te verseker. Hierdie inisiatief, gelei deur die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, in samewerking met ons vennote in die privaatsektor, was daarom ’n direkte reaksie op sy stelling,” het hy bygevoeg.

Swart het gesê die inisiatief is “aangeneem” en verder deur die toerisme-liggaam, Visit Stellenbosch, bevorder. “Dit is in hul veldtogte tydens die inperkingstydperk gebruik, hulle het die geldinsameling aangemoedig en die burgemeester het die veldtog afgeskop met 'n foto van haarself langs een van die kunswerke, waar sy ook die eerste skenking gemaak het. Sy het selfs gevra dat ons die inisiatief met drie maande verleng sodat buitelandse besoekers ook daaraan deel kon hê.”