Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

"Die reg reguleer hoe mense binne ’n samelewing saamleef en regskenners speel ’n belangrike rol in daardie stelsel. Ons het meer mense nodig wat sal filosofeer oor die reg en wat dit kan bereik,” glo hy.        

Nou in sy vierde jaar het Thembalethu sy passie gevind, wat by menseregte, sosiale geregtigheid en konstitusionele reg lê.      

Die hoogtepunt van sy tyd by die US tot dusver was om saam met prof Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer van Suid-Afrika en bekleër van die Fakulteit Regsgeleerdheid se navorsingsleerstoel in sosiale  geregtigheid, te werk. Prof Madonsela onderneem en koördineer navorsing in sosiale geregtigheid.

"Dit is die grootste eer (om saam met haar te werk). Ek het so baie geleer. Sy het my die waarde van ubuntu geleer, en hoe belangrik dit is om jou voorspoed te waardeer en jou invloed te gebruik om waarde tot die samelewing by te dra."          

In hierdie tyd was Thembalethu betrokke by veldtogte soos #DearPresidents en #Action4Inclusion.       

#DearPresidents het tydens die verkiesing in 2019 geloop en het aan jongmense die geleentheid gegee om vir die leiers van die verskillende politieke partye te vertel wat hulle graag in hul gemeenskap sou wou sien verander en hoe hul ideale wêreld daar sou uitsien.           

Die doel van #Action4Inclusion, ’n samewerking tussen die leerstoel vir Sosiale Geregtigheid en die studenteraad, is om geld in te samel om studentefooie te betaal – ’n baie aktuele onderwerp.           

"Opvoeding stel mense in staat om hulle potensiaal te ontwikkel en die armoedesiklus te breek," beklemtoon Thembalethu.      

Met die verloop van jare het hy ’n belangrike les oor sosiale geregtigheid geleer.        

"Moenie met die huidige neigings saamgaan nie. Soek sosiale ongeregtigheid, selfs al praat mense nie daaroor nie. As jy dit geïdentifiseer het en gewillig is om daarvoor te werk, doen dit. Somtyds sien mense nie jou visie nie, maar op ’n sekere punt gaan hulle aan boord moet kom omdat sosiale ongeregtigheid ons almal raak."

Stella-stigting

Thembalethu, oorspronklik van Uitenhage, is een van die eerste ontvangers van ’n Ciucci-beurs, toegeken deur die Stella Stigting. Die doelwit van die Ciucci-beurse is om minderbevoorregte studente in staat te stel om ’n uitstaande akademiese kwalifikasie te verwerf wat hulle uiteindelik sal bemagtig om ’n positiewe bydrae tot die land te maak. Die stigters van die Stella-stigting, Giuseppe en Kathleen Ciucci, is albei alumni van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid.

Hy is ongelooflik dankbaar vir hierdie beurs, wat hom, in sy eie woorde, "bevry" het en aan hom finansiële sekuriteit bied.

Om terug te gee, het hy sy 21e verjaarsdag in Desember gevier deur ’n boek saam te stel wat bestaan uit lewenslesse vir jong mense – 21 Life Lessons @ 21. Hy het 21 suksesvolle mense wat hy bewonder, genader om een lewensles of insig te deel oor wat hulle wens hulle het geweet toe hulle 21 was.           

Prof Madonsela, Kathleen Ciucci, prof Wim de Villiers (Rektor en Visekanselier van die US), Zelda la Grange (voormalige privaat sekretaresse vir President Nelson Mandela), prof. Mamokgethi Phakeng (Visekanselier van die Universiteit van Kaapstad) en Thembalethu se pa, Sithembiso Welcome Seyisi, verskyn almal in die boek.          

"Ek was die afgelope paar jaar besonder bevoorreg om deur uitsonderlike Suid-Afrikaanse vroue en mans geïnspireer en gementor te word. Ek wou hê ander jong mense moet ook die liefde, genade en inspirasie waarby ek gebaat het, ervaar. My wens is dat hierdie boek lesers sal aanmoedig om ’n lewenslyn te verskaf aan diegene wat steeds deur ongelykheid en ongeregtigheid versmoor word."

 

Alle wins uit 21 Life Lessons @ 21 sal vir ’n goeie doel gaan, onder meer #Action4Inclusion.

Besoek https://21lifelessons.co.za/ vir meer inligting.