Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

Ongeveer 40 jaar nadat sy as ’n uitruilstudent aan die US studeer het, het dr Thomson besluit om haar kundigheid in gemeenskapsgesondheid en mediese seksologie te kombineer deur geld te skenk om ’n seksologie-kurrikulum by haar alma mater te ontwikkel.

Sy skenk al sedert 2019 10 000 euro per jaar (30 000 euro sover) en het haarself daartoe verbind om tot minstens 2023 met haar skenkings voort te gaan.

Die kursus "Positiewe Seksologie" wil toekomstige dokters oplei om seksuelegesondheidsorg op ’n moderne en positiewe manier by hul praktyk en kundigheid in te sluit deur hulle kennis oor en gemak met die onderwerp te vergroot.

Seksologie is ’n interdissiplinêre onderwerp wat fokus op diverse aspekte van mense se seksuele gedrag en seksualiteit, insluitend seksuele ontwikkeling, seksuele reaksie, gender en identiteit, seksuele omgang, seksuele disfunksie, seksueel oordraagbare siektes en ander kwessies soos kindermolestering of seksuele geweld.

"Seksuele gesondheid gaan oor meer as net aborsies en seksueel oordraagbare siektes," verduidelik dr Marlena du Toit, ’n ginekoloog, mediese seksoloog en deeltydse lektor aan die US se Fakulteit Mediese en Gesondheidswetenskappe. Sy is ’n lid van die taakspan wat die nuwe kurrikulum ontwikkel.

"Tot nou het studente deur die loop van hul ses studiejare twee lesings oor seksuele gesondheid gehad. Dit is nie voldoende nie."

Volgens dr Du Toit is die kursus se doel om jong dokters die woorde te gee om oor seksuele gesondheid te praat. Dit volg ’n bio-psigo-sosiale benadering en fokus nie net op die mediese aspekte van seksuele gesondheid nie; studente sal seksuele gesondheid ook uit ’n sosiologiese, sielkundige, teologiese en etiese invalshoek verken.

Die doelwit is om kundige dokters met ’n breë perspektief te ontwikkel – wat ’n gesprek oor seksuele gesondheid kan begin en óf met basiese behandelingsoplossings vorendag kan kom, óf kan bepaal wanneer pasiënte na spesialiste verwys moet word.

"Met hierdie skenking kan ons ’n generasie dokters (en hopelik ander gesondheidsberoepe ook) oplei wat gemaklik is om seksuele gesondheid te bespreek,” voeg dr Du Toit by.

Die kursus sal bestaan uit lesings en terugvoer deur kundiges oor seksuele gesondheid (25%) en selfgerigte begeleide leer (75%).

Studente moet uiteindelik ’n volledige en toepaslike kliniese assessering van ’n pasiënt se seksuele gesondheid kan doen, ’n pasiënt-gesentreerde seksuelegesondheid-bestuursplan kan voorstel en implementeer, en aktief kan bydra tot die deurlopende verbetering van die gehalte van seksuelegesondheidsorg en pasiëntveiligheid.

Kommunikasie is baie belangrik, en studente moenie net inligting oor seksuele gesondheid kan insamel en interpreteer nie, maar ook relevante inligting en verduidelikings oor seksuele gesondheid aan pasiënte kan oordra terwyl hulle die pasiënt se perspektiewe, behoeftes, waardes en doelwitte in ag neem, ongeag hul eie oortuigings en menings.

Die langtermynhoop is dat seksuele gesondheid eendag sy eie departement in die Fakulteit Mediese en Gesondheidswetenskappe sal hê.

"Die onderwerp regverdig dit,” sê dr Thomson. "Seksuele gesondheid is ’n wêreldwye kwessie en ek hoop dat die Universiteit Stellenbosch leiding kan neem met die manier waarop hulle hul toekomstige dokters in terme van seksuelegesondheidsorg oplei."