Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

"AGOS bied werklik ‘n geleentheid wat een keer in ‘n leeftyd gebeur," verduidelik Sihle Mofokeng, Beampte vir Werwing- en Keuringlidmaatskap, en voeg by dat hul lidmaatskap meer as slegs 'n finansiële transaksie tussen die stigting en sy begunstigdes beskou moet word.

“As deel van die inisiatief het ‘n mens byvoorbeeld toegang tot 'n ontwikkelingsprogram vir entrepreneurskap wat dan help om die ondernemersgees wat ons almal het, te kweek. Begunstigdes het ook toegang tot 'n Persoonlike Programbeampte. Dit is iemand wat daarvoor verantwoordelik is dat daar na hul persoonlike ontwikkeling en groei gekyk word.”

Mofokeng verduidelik dat alle deelnemers boonop tydens hul derde en vierde studiejaar 'n Bedryfsmentor toegeken word.

“Dit is iemand wat dieselfde studierigting volg, iemand wat al voorheen dieselfde reis onderneem het en in staat is om jou te help. Deelnemers wat entrepreneurskap bewys terwyl hulle op universiteit is, het ook toegang tot 'n Sakeafrigter.

"Na afloop van hul studies word gegradueerdes deel van ons Vereniging en kan hulle voortgaan om te leer en hul ondernemingsgees te kweek met toegang tot kapitaalfinansiering van ons stigtervennoot ESquared."

AGOS het tot op hede 87 studente aan die Universiteit Stellenbosch ondersteun, waarvan 58 nog aktiewe studente is.

"Die geleentheid is daar vir alle graadkususse, behalwe medisyne, veeartsenykunde en tandheelkunde (vanweë die lengte van hierdie kwalifikasies). Ons glo dat entrepreneurskap aangeleer kan word en dat almal ondernemend moet dink waar hul hul ookal bevind – in die hofsaal as advokaat, in 'n myn as ingenieur of selfs op die verhoog as kunstenaar of toneelspeler.”

 

Hoewel hul nie aan studente voorskryf watter universiteit hulle moet bywoon nie, glo Mofokeng dat die aantal kandidate wat die Universiteit Stellenbosch kies oor die jare toegeneem het vanweë die lewenstyl wat die dorp en universiteit sy studente bied.

"Die sterk studente-ondersteuning (akademies sowel as psigososiaal), ‘n uitstekende ranglys en die fokus op entrepreneurskap – veral die werk wat by die Launch Lab gedoen word – maak die Universiteit Stellenbosch een van ons vanselfsprekende vennote vir wat ons probeer bereik."

Alle voornemende studente wat nog nie seker is of hulle aansoek wil doen nie, moet die kans vat en 'net daarvoor gaan', sê Mofokeng.

"Hou in gedagte dat ons nie mense keur wat 'n besigheid begin het nie, maar eerder mense met die potensiaal om dit te doen. Die aansoekvorm lyk dalk lank, maar dit is ook 'n reflektiewe oefening en dit sal jou regtig dwing om na te dink oor wat jy gedoen het. Dit is 'n eenmalige geleentheid wat jy nie moet misloop nie."

Vir meer inligting oor die Allan Gray Orbis-stigting, besoek www.allangrayorbis.org.