Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

Die SciMathUS-program bied jaarliks aan studente wat reeds die finale NSS-eksamen geslaag het maar nie kwalifiseer vir toegang tot tersiêre onderwys of sekere programme met hoë toegangsvereistes (soos ingenieurswese of medies) nie, ’n tweede kans om hul punte vir die vakke Fisiese Wetenskappe, Wiskunde en Rekeningkunde te verbeter. Met hierdie verbeterde punte kan die studente dan die volgende jaar weer vir hoër onderwys aansoek doen.

Oor die afgelope 20 jaar het die SciMathUS-program 1 698 studente die geleentheid gegee om hul droom om verder te studeer, te bewaarheid, en só die baan van hul lewe te verander.

Die finansiële ondersteuning wat van die Eskom-ontwikkelingstigting ontvang word, stem ooreen met die visie van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse regering – om toegang tot hoëronderwysinstellings te verbreed en by te dra tot die skepping van ’n groter poel van hoogsopgeleide jongmense.

“SciMathUS fokus op die Eskom-ontwikkelingstigting se kerntema wat betref die ontwikkeling van menslike kapitaal deur aan studente die geleentheid te bied om hul drome na te volg sodat hulle suksesvol kan wees en ’n bydrae tot die ekonomie kan maak. Ons doelwit is nie net die verbreding van toegang (tot hoër onderwys) nie, maar ook om toegang met sukses te verseker,” sê Nokwanda Siyengo, SciMathUS-programbestuurder.

Dit is hoekom die program mentorskap en psigo-sosiale ondersteuning aan elke student bied en modules soos akademiese en rekenaargeletterdheid insluit. Voormalige SciMathUS-studente tree as mentors op vir die nuwelinge wat in die meeste gevalle die eerste lid van hul gesin is om by ’n universiteit te studeer.

“SciMathUS-studente word nie net gewerf nie, maar ook voorberei om die akademiese en sosiale uitdagings van universiteitstudies te hanteer.”

Nadat hulle hul SciMathUS-jaar suksesvol voltooi het, is studente op akademiese en emosionele vlak gereed om in te skryf vir hoofstroomprogramme by enige tersiêre instelling, en word hulle bygestaan met aansoeke vir die graadprogram van hul keuse, asook met beursaansoeke.

Volgens Cecil Ramonotsi, hoof- uitvoerende beampte van die Eskom-ontwikkelingstigting, is hulle trots op en opgewonde oor die verskil wat hulle in studente se lewe maak.

Die stigting het oor die afgelope agt jaar ruim tot SciMathUS bygedra. Hy glo die program speel ’n groot rol om die gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie, te oorbrug, en die speelveld gelyk te maak vir leerders wat uit opvoedkundig agtergeblewe omstandighede reg oor die land kom. Die stigting belê baie geld in opvoedkundige programme wat Wiskunde en Fisiese Wetenskappe prioritiseer en SciMathUS voldoen aan hul vereistes.

“Ons kry baie waarde vir die geld wat ons aan SciMathUS toeken,” sluit hy af.