Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

Die SIB is in 2004 as ’n interinstitusionele Sentrum van Uitnemendheid binne die DWI-NNS se Program vir Sentrums van Uitnemendheid gestig. Sy mandaat is om navorsing, ontwikkeling en opleiding in biodiversiteitwetenskap te onderneem, veral soos dit van toepassing is op die verstaan van die impak, bestuur en voorkoming van biologiese indringing.            

Die Sentrum se verhouding met die Millennium Trust het in 2020 begin toe ’n oorspronklike skenking van R2 miljoen deur die Trust ’n finansiële gaping, wat deur ’n besnoeiing in befondsing vanaf die Departement van Wetenskap en Tegnologie veroorsaak is, gevul het. Die mees onlangse skenking van R7,5 miljoen oor drie jaar sal help om die nuwe leerstoel te skep.

"Ons het al verskeie SARCHi-leerstoele gehad wat deel was van die SIB – dit voorsien bykomende steun vir ons werk," verduidelik prof Dave Richardson, direkteur van die SIB en ’n professor in die Departement Botanie en Soölogie aan SU.

"Ná die uitfasering van ons befondsing as ’n nasionale Sentrum van Uitnemendheid, moet die SIB na ’n nuwe model oorskakel. Ons plan is om ’n selfversorgende sentrum/eenheid/instituut by die US te word. Om dit te doen, moet ons gewaarborgde befondsing vir verskeie navorsingsleerstoele hê wat akademici sal ondersteun om studieleiding aan studente te bied en navorsing te doen. Dit sal ook help met administratiewe steun, geld om oorhoofse koste by die universiteit te dek, en beurse vir studente. Die leerstoel vir die Millennium Trust is die eerste van dié leerstoele en ons kort minstens nog twee."            

Ná samesprekings met die Trust, is besluit dat die "beskermde gebiede"-fokus die meeste met hul belange ooreenkom aangesien dit aandag gee aan die Trust se doelwitte om ’n doeltreffende staatsdiens sowel as uitnemendheid in Suid-Afrika te bevorder.          

"Die SIB verskaf onontbeerlike ondersteuning aan verskeie regeringsdepartemente met ’n mandaat om beskermde gebiede te bestuur. Dit het ook ten doel om wêreldwyd erken te word vir uitnemendheid, inklusiwiteit en innovasie, terwyl dit kennis in diens van die samelewing bevorder in Suid-Afrika, reg oor kontinentale Afrika, en wêreldwyd," voeg prof Richardson by.         

"Ons beplan om aan te hou om wêreldgehaltenavorsing, -studenteopleiding, -inligtinguitruiling, ens. aan ons vennote, onder meer regeringsorganisasies, NRO’s en private landeienaars, te lewer sodat Suid-Afrika eskalerende probleme met betrekking tot indringerspesies en verwante faktore die hoof kan bied.     

 "Ons is opreg dankbaar teenoor die Millennium Trust vir hierdie skenking. Die nuwe leerstoel sal voortbou op die soliede grondslag van navorsing wat oor die SIB se geskiedenis van 18 jaar onderneem is. Ons sal in vennootskap met SANParke, Cape Nature en ander vennote innoverende oplossings soek om indringerspesies in Suid-Afrika se beskermde gebiede hok te slaan."