Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2021

Met ’n fokus op Wiskunde en Wetenskap wil die program bydra tot die vestiging van ’n volhoubare mensekapitaalpyplyn vir loopbane in die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (oftewel "STEM").

Die program, aangebied deur die Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP), is in 2021 bekendgestel – die eerste jaar van ’n driejaarooreenkoms met die Energy Mobility Education Trust (EMET). Die Trust het SUNSEP genader om ’n program te ontwikkel wat ooreenstem met hul werk en het R7,6 miljoen in die eerste jaar belê.

Volgens die hoof- uitvoerende beampte van EMET, Vuyo Mwase, het die Trust ’n lang geskiedenis met en ’n diep passie vir jeugopleiding en vaardigheidsontwikkeling.

"Ons het soortgelyke programme saam met ander instellings in die Gauteng-omgewing ontwikkel en geïmplementeer en het uiters waardevolle lesse deur hierdie ervarings geleer. Op grond van hierdie insigte, het die hoë standaarde en reputasie van SUNSEP hulle die ideale vennoot gemaak om die Trust te help om sy geografiese reikwydte uit te brei," verduidelik sy.

Altesaam 290 leerders in drie provinsies – die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap – is in 2021 vir hierdie aanvullende akademiese program gekies. Die plan is om elke jaar ’n nuwe groep van 50 graad 11-leerders in elke provinsie by te voeg. Hulle word gekies op grond van hul akademiese prestasie.

"UPREP se hoofdoelwit is om die opvoedkundige ervaring van talentvolle leerders te verbeter deur onderwysondersteuning van hoë gehalte. Die program word deur sy eie pedagogiese beginsels geïnspireer en die leerervaring is doelbewus ontwerp om spesifieke uitkomste te behaal, soos toegang tot STEM-gegronde programme," verduidelik Lynthon Jacobs, programbestuurder by SUNSEP.

UPREP-uitkomste sluit in verbeterde prestasie in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe in die Nasionale Seniorsertifikaat- (NSS-) eksamen; ’n groter groep voorheen benadeelde leerders wat toegang tot universiteit kry; en ’n groter groep leerders wat Wiskunde en Fisiese Wetenskappe as vak kies.

SUNSEP het gereageer op die uitdagings wat deur COVID-19 veroorsaak is deur die "Smart Class"-konsep – ’n aanlyn leerbestuurstelsel (LBS) – te ontwikkel. UPREP gebruik hierdie LBS om leerders te bereik en maak toegang tot tegnologie moontlik deur slimtablette en data aan elke deelnemer te verskaf.

Benewens aanlyn klasse op Saterdae en gedurende skoolvakansies, kan leerders selfgerigte leer toepas met vooraf opgeneemde lesse en werkboeke. Elke provinsie het toegewyde tutors wat vir akademiese vaslegging en verdere ondersteuning verantwoordelik is. Die LBS sluit ook ’n ondersteuningprogram in wat op onderwerpe soos studievaardighede en tydsbestuur fokus. Aanlyn universiteitaansoek- en beursaansoekportale maak dit vir leerders makliker om by die tersiêre instelling van hul keuse aansoek te doen.

Dit spreek die Trust se behoefte aan om aan talentvolle leerders in onderbediende gebiede toegang tot onderrig van uitstekende gehalte in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe, asook akademiese loopbaanberading en ondersteuning, te bied.

"Benewens die aanvullende akademiese ondersteuning, bied UPREP vir ons leerders die geskenk van moontlikhede. Die gebruik van slimtegnologie, die volledige skoolpakket en die algehele onderrig- en leerervaring maak dit ’n aspirerende en inspirerende program vir leerders," sluit Mwase af.