Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Hierdie Carnegie-befondsde inisiatief is daarop gemik om die African Research Universities Association- (ARUA-)netwerk as ’n toegangspunt te benut om ’n prentjie te skets van, en ’n gemeenskaplike begrip te ontwikkel oor, die stand van institusionele vooruitgang by toonaangewende navorsingsuniversiteite op die Afrika-vasteland. Die idee is om samewerking en vennootskappe tussen hierdie Afrika-vennote te versterk.

"Filantropie sal na verwagting aansienlik groei in die volgende dekade en dit word ’n toenemend belangrike inkomstestroom vir hoëronderwysinstellings namate openbare finansies onder volgehoue druk geplaas word. Afrika-instellings behoort goed geplaas te wees om die geleenthede te benut wat met die uitbreiding in globale filantropie ontstaan. Anekdotiese bewyse dui egter daarop dat min Afrika-universiteite die hulpbronne en die institusionele kennis het om toegang te verkry tot die wêreldwye befondsingsgeleenthede wat na verwagting sal toeneem," sê Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die US.

"Om Afrika-instellings beter te plaas om toegang te verkry tot die geleentheid wat die uitbreiding in filantropie bied, behoort tot verbeterde befondsing vir hoër onderwys in Afrika te lei."

Volgens Randall Adams, internasionale fondsinsamelingskoördineerder by die OAB, is daar nog min studies oor die stand van institusionele vooruitgang en fondsinsamelingsaktiwiteite aan Afrika-instellings gedoen. Adams sê die toekenning sal dus die OAB-span toelaat om sulke aktiwiteite by 'n uitgesoekte aantal ARUA-instellings te karteer en beter te verstaan.

Adams sê: "Die doel is om ons gemeenskaplike begrip te deel wat kan lei tot die ontwikkeling van kapasiteit en die bevordering van professionaliteit van 'n kontinent-verbonde en vaardige groep fondsinsamelingspersoneel. Die projek sal ook help om verbeterde ondersteuning vir samewerking tussen fondsinsamelingskantore dwarsdeur die ARUA-netwerk te vestig.”

Bruns voeg by dat die Carnegie-toekenning die weg baan om, saam met ARUA‑vennootuniversiteite, die moontlikhede te verken wat bestaan om die oënskynlike toename in globale filantropie te benut en die African Ivy League aan voornemende skenkers te vertoon.

"Hierdie projek is goed op dreef,” voeg sy by. "Ons het in Maart 2022 in alle erns begin toe die US ’n webinaar aangebied het waar die potensiaal van private filantropie vir hoër onderwys in Afrika bespreek is. Twaalf uit 16 ARUA-universiteite het deelgeneem, en die vergadering het bestaan uit senior universiteitsverteenwoordigers, onder meer drie visekanseliers. Nog ’n webinaar is in Junie aangebied, terwyl ons binnekort kapasiteitsbou in fondsinsameling by ’n aangesig-tot-aangesig-vergadering in Stellenbosch sal bespreek. 

"Ek is optimisties oor wat voorlê en vol vertroue dat nouer samewerking tussen Afrika‑vennote tot groter belegging in hoër onderwys op ons vasteland sal lei."