Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Die Sophia-stigting (The Sophia Foundation), ’n niewinsgewende organisasie, is in September 2012 gestig en is verbind tot die uitbreiding van die bewussyn onder mense in die belang van die self, die samelewing, en die natuurlike wêreld in die geheel. Ons verhouding met die Universiteit Stellenbosch het in 2017 begin toe ons ons daartoe verbind het om vir ’n tydperk van drie jaar met die instelling aan ’n aanlyn leierskapkursus van ses modules mee te werk. Die kursus is egter halfpad deur onderbreek kort ná die Covid‑19-pandemie begin het.

Uit my persoonlike ervaring het ek begin besef dat alhoewel akademiese prestasie van groot waarde is, om die self te ken, persoonlike groei te ervaar en karaktereienskappe te ontwikkel, selfs belangriker is in die strewe om ’n positiewe bydrae tot die lewe in die algemeen te maak. Dit is om hierdie rede dat ons, toe ons deur die Universiteit genader is om die balans van die fondse wat nie gebruik is nie, aan te wend vir beurse vir studente in die "verlore middelgroep", ingestem het op voorwaarde dat beursontvangers hulle daartoe verbind om 'n Innerlike Leierskapkursus by te woon. Dit was klaarblyklik ’n nuwe konsep vir die akademiese instelling en ek is werklik dankbaar teenoor Pieter Swart, Direkteur: Groot Skenkings en Transformasionele Skenkings, vir sy ondersteuning en aanmoediging.

Keriesa Botha, ’n kollega en ervare fasiliteerder wat oor omvattende kennis van die etos van die Sophia-stigting beskik, het ons eerste kohort in 2021 gelei. Werkswinkels is een keer ’n kwartaal gehou en ’n ervaringsleerwyse met aktiewe deelname, deel in groepe en deel in pare is gevolg. Die kursus ondersoek sewe beginsels vir persoonlike ontwikkeling deur die lens van emosionele intelligensie. Die inhoud omvat die neem van verantwoordelikheid vir ’n mens se welstand en die stel van grense; empatie en aktiewe luister; selfbewussyn en selfrefleksie; die innerlike kritikus; bewuswording van ’n mens se eie waarheid en respek vir dié van ander; die bestuur van snellers en reaksies; die gebruik van ’n mens se wil om betekenisvolle verandering in jou lewe te aktiveer; en die beoefening van dankbaarheid.

Terwyl ek die werkswinkels bygewoon en gepaste insette gelewer het, het ek ook meer vertroud geraak met die beursontvangers en hul uitdagings. Ná die isolasie van Covid-19 het vele mense die geleentheid waardeer om ervarings te deel, aanvanklik ’n skrikwekkende gedagte vir sommige, en ’n aantal nuwe en betekenisvolle vriendskappe is gesmee. Verskeie studente het gesê hulle ervaar vir die eerste keer hoe dit voel om behoorlik na "geluister" te word – een van die oefeninge het behels om ’n ervaring met ’n maat te deel en die maat dan te laat rapporteer wat die persoon gehoor het. "Ek het besef hoeveel ek myself daarvan weerhou om te bereik wat ek kan, juis oor my Innerlike Kritikus, en hoe dit werklik my selfvertroue knou," het een student gesê. "Ek vind dat wanneer ek daarop konsentreer om selfs vir die kleinste ding dankbaar te wees, nog soveel meer ontstaan om voor dankbaar te wees," het ’n ander gesê.

As gevolg van die positiewe terugvoer deur die deelnemers het Pieter Swart die Sophia‑stigting versoek om die proses in 2022 te herhaal. Ilze Olckers, ’n ervare fasiliteerder op die gebied van persoonlike transformasie, lei die Kursus wat vyf werkswinkels insluit. Deur voort te bou op die grondliggende ontwerp van die Innerlike Leierskapkursus 2021, het sy die Innerlike Leierskapkursus 2022 in pas gebring met die Verenigde Nasies se Innerlike Ontwikkelingsdoelstellings (IOD’s) – ’n bloudruk van eienskappe en vaardighede wat nodig is om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelstellings te bereik, terwyl daar streng by die etos van die Sophia-stigting gehou word. Die vyf hoofkategorieë sluit in syn (bestaan); denke; samehorigheid; meewerking; en optrede. Die Innerlike Ontwikkelingsdoelstellings weerspieël die geloofwaardigheid en momentum van die internasionale beweging en die gemeenskap van praktyke wat hulle ondersteun, wat beteken ons Innerlike Leierskapaanbieding kan as voorpuntpraktyk beskou word.

Ons het tot dusver vanjaar drie werkswinkels gehad en die beursontvangers wat voluit en met groot entoesiasme deelgeneem het, het almal positiewe terugvoer gelewer. Die gehalte van die deelnemers het my werklik beïndruk en ek leer hulle stadigaan op ’n meer persoonlike vlak ken. My wens is dat die vaardighede wat hulle in die Innerlike Leierskapkursus bekom, hulle vir die res van hul persoonlike en professionele lewe, en in hulle gemeenskappe, goed te pas sal kom.

My reis met die Universiteit Stellenbosch was vrugbaar en lonend, en die hartlike ontvangs en vriendskap wat ek van die US-gemeenskap ontvang het, het my diep geraak – dankie.

Op die web:

https://thesophiafoundation.org/za