Die Harry Oppenheimer‑navorsingstoekennings is in 2001 deur die Oppenheimer‑gedenktrust ingestel om die Trust se stigter, Harry Oppenheimer, en alles waarvoor hy staan te gedenk, en veral sy pogings ter ondersteuning van menslike en intellektuele ontwikkeling, die bevordering van vakkundigheid, en die aanmoediging van idees. Die Trust het ’n lang tradisie van belegging in opvoeding en vele begunstigdes kon daardeur belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse openbare lewe lewer. Die Navorsingstoekenning, wat die Trust se vernaamste toekenning is, bou voort op en verruim hierdie tradisie en het ’n geldwaarde van twee miljoen rand.
Dit is ’n besonderse belegging ter aanmoediging en erkenning van uitnemendheid in vakkundigheid in al die vorms daarvan. Kandidate uit alle dissiplines ding jaarliks mee om dié Navorsingstoekenning aan vakkundiges van die hoogste kaliber, persone wat baanbrekers‑ en internasionaal beduidende werk lewer, veral vir gebruik in die bevordering van kennis, onderrig, navorsing en ontwikkeling in Suid-Afrika en verder.
Twee-en-twintig Navorsingstoekennings is tot dusver gedoen. Jan-Hendrik Hofmeyr, Professor in Biochemie aan die Universiteit Stellenbosch, was die eerste akademikus aan die US wat die Navorsingstoekenning ontvang het vir sy werk in Stelselbiologie in 2002.
By die ontvangs van die toekenning het professor Hofmeyr gesê Suid-Afrika is op gelyke voet met die wêreld wat wetenskaplike studie en navorsing betref, maar hy meen dat akademiese kaliber vreemd genoeg misverstaan word, veral op ’n tydstip wat die popularisering van die wetenskap in die res van die wêreld ’n hoogtepunt bereik het.
"Hierdie toekenning is uniek en ’n positiewe voorbeeld vir ander filantropiese organisasies in Suid-Afrika. Dit het my, en my gesin, een jaar van vryheid van finansiële kommer en van die druk van onderrig gegun, en die tyd om hierdie kwessies te oordink. Dit is ongetwyfeld die mees gesogte toekenning in die land, en omdat dit op idees toegespits is, word dit dikwels Suid-Afrika se Nobelprys genoem,” sê hy.
Hofmeyr is ’n medestigter van die Triple-J groep vir molekulêre selfisiologie en het talle fundamentele bydraes tot die ontwikkeling van metaboliesebeheer‑analise en rekenaarselbiologie gelewer. Hy hou ’n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting en is 'n lid van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika, sowel as ’n genoot van die Royal Society of South Africa. In 1999 ontvang hy die Universiteit Stellenbosch se Visekanselierstoekenning vir uitnemende navorsing en in 2003 die Beckman Goue Medalje van die Suid-Afrikaanse biochemiese vereniging.
Saam met professor Paul Cilliers van die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch is Hofmeyr instrumenteel in die stigting van die Sentrum vir Studies in Kompleksiteit in 2009.
In 2006 word die Navorsingstoekenning aan dieselfde medestigter dr Paul Cilliers, Professor in Dekonstruksie, Kulturele Filosofie, Wetenskapsfilosofie en Etiek in die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch gemaak, ter erkenning vir sy uitstaande prestasies in die ontwikkeling van ’n algemene begrip van die kenmerke en aard van komplekse stelsels. Daarmee word hy die sesde ontvanger van die toekenning en die tweede van Stellenbosch.
By die ontvangs van die toekenning het hy gesê, “Die geleentheid om vir ’n jaar vrylik en ongehinderd navorsing te doen is noodsaaklik vir die ontwikkeling van idees, ook die tyd om te besin – wat skaars in die daaglikse konteks is. Sonder besinning sal die akademie afgestomp raak. Die feit dat die belang van filosofiese refleksie op hierdie manier erken word, is uiters bemoedigend vir ons almal wat na ’n mensliker begrip van die wêreld streef. Dit erken ook die belang van verskeie morele waardes wat nie tot instrumentele denke en blote berekening gereduseer kan word nie. Kompleksiteitsdenke help ons om meer inklusiewe strategieë te ontwikkel, deur insigte uit sowel die natuur- en die menswetenskappe te gebruik, sonder dat die verskil tussen hulle vervaag.”
Cilliers, ’n merkwaardige Renaissance-man en een van die belangrikste akademici en intellektuele kragte wat hierdie land opgelewer het, is in Julie 2011 oorlede.
In 2020 word professor Pumla Gobodo-Madikizela die derde ontvanger van hierdie gesogte Navorsingstoekenning. Sy is die bekleër van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingsleerstoel vir Historiese Trauma en Transformasie en die Direkteur van die Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Soeke na Herstel (NGeSH) aan die Universiteit Stellenbosch.
Sy behaal ’n BA Honneurs aan die Universiteit van Fort Hare en ’n Meestersgraad in Kliniese Sielkunde aan die Rhodes Universiteit. Sy ontvang ’n PhD aan die Universiteit van Kaapstad vir ’n proefskrif oor die nalatenskap van geweld gebaseer op twee gevallestudies: kollektiewe geweld (’n halssnoermoord), en oor die apartheidsregering se moordbendeleier Eugene de Kock. Sy word internasionaal erken vir haar werk in die veld van traumastudies en navorsing oor die psigoanalitiese interpretasie van berou en vergifnis. Sy was een van die pioniers in navorsingsprosesse oor berou en vergewensgesindheid in die konteks van growwe menseregteskendings.
Onder haar toekennings is eredoktorsgrade van Rhodes Universiteit en van die Friedrich‑Schiller Universiteit, Jena, die Eleanor Roosevelt-medalje, en Distinguished African Scholar deur die Cornell Universiteit se Mario Einaudi Sentrum vir Internasionale Studies. Sy is ’n lid van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika, ’n genoot aan Harvard se Radcliffe Instituut, en ’n Erelid van die Suid-Afrikaanse psigoanalitiese instituut. Sy dien as Navorsingsadviseur aan die Queen’s University, Belfast, ’n pos wat geaffilieer is by die Senator George Mitchell Institute for Global Peace, Security, and Justice.
Professor Gobodo-Madikizela was die outeur van die bekroonde werk A Human Being Died That Night oor Eugene de Kock, die hoof van ’n geheime teenterrorisme‑eenheid wat verantwoordelik is vir die moord op en marteling van dosyne mense, een van die mees berugte mans wat voor die hof gedaag is. Sy bynaam was Prime Evil, en professor Gobodo‑Madikizela het ’n reeks besoeke aan De Kock gebring toe hy twee lewenslange vonnisse plus 212 jaar vir “politieke misdade” uitgedien het. Die werk is op hierdie onderhoude gebaseer.
In ’n 2014‑resensie van Nicholas Wright se toneelstuk met dieselfde naam, ’n verwerking van die boek, skryf The Guardian, “Dit is asof De Kock se afwesige slagoffers die teater soos spoke vul. Dis moeilik om te kyk, veral omdat ons almal, nes Gobodo-Madikizela, in ons harte weet dat daar geen monsters in hierdie wêreld is nie, net ander mense soos ons.” Vergifnis, trauma, intergenerasionele oorerwing en weerstand, getuienis, empatie, empatiese herstel, en die idee van regstellende humanisme is almal belangrike temas in professor Gobodo‑Madikizela se werk. Op ’n stadium in die toneelstuk sê die karakter wat haar verteenwoordig, “Eugene is nie meer ‘radikaal anders’ vir my nie. Hy is, ten goede of ten kwade, ’n mens met redes en motiewe en sake wat ek moet ondersoek.”
Professor Gobodo-Madikizela het gesê van haar projek wat deur die toekenning ondersteun sal word: "Vir hierdie werk sal ek terugkeer na die argief van die Waarheids- en Versoeningskommissie om oor die gruwelike geweld in kontemporêre Suid-Afrika te besin. Terselfdertyd sal dit ook poog om uit te vind waarom die visie van die toekoms wat aan die begin van ons demokrasie voorgestel is, nie geslaag het soos wat ons verwag het nie. Die werk streef ook om die rol van kuns in die voorspelling van nuwe maniere om met mekaar te verkeer, te verstaan − die katalitiese krag van die kunste om ons te inspireer om 'n meer regverdige toekoms te vestig."