Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Dit is die mening van dr Raminderpal Singh, HUB van Incubate.bio (http://incubate.bio), wat daarop fokus om die ontdekking van geneesmiddels vir neurodegeneratiewe siektes te versnel. Die maatskappy het 'n aansienlike toekenning aangekondig vir die US se Departement Biochemie om te kan voortgaan met navorsing in verband met die sisteembiologie van neurodegeneratiewe versteurings.

Dr Singh, 'n ervare tegnologieleier en sake-ontwikkelingsbestuurder, met uitgebreide wêreldwye ondervinding in klein en groot tegnologiemaatskappye, sê die vennootskap tussen die US en Incubate.bio is besig om uit te brei en wil voordeel haal uit hul bestaande werksverhouding.

“Incubate.bio kon deurbrake in rekenaarmodellering behaal vanweë die maatskappy se wêreldklas-wetenskaplikes en sisteembioloë – wat almal van die Universiteit Stellenbosch is. Die Incubate.bio-span sluit in bioloë en datawetenskaplikes met dekades se navorsingservaring aan die US en 'n Wetenskaplike Adviesraad van bestaande senior akademici, wat dr Dawie van Niekerk, van die US se Departement Biochemie, en prof Ben Loos, van die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe insluit," voeg hy by.

“Dit is 'n voorreg om met wêreldwyd gerespekteerde akademici en hul studente te werk. Ek is vol vertroue dat navorsing in die veld van Alzheimersiekte ensovoorts vinnig sal vorder vanweë hegte verhoudings soos hierdie," sê hy.

Dr Van Niekerk, navorser en senior lektor, sê die Incubate.bio-toekenning gaan vir beursbefondsing vir 'n nagraadse student in sy departement, wat die student 'n geleentheid bied om nagraadse studies te onderneem wat die persoon andersins nie sou kon oorweeg nie, asook as bydrae tot navorsingsuitsette by die Universiteit. “Aangesien sisteembiologie taamlik gespesialiseerd is wat biologie, wiskunde en rekenaarprogrammering betref, behoort dit ook studente te lok om verder in hierdie vinnig groeiende multidissiplinêre navorsingsveld te studeer."

Dr Van Niekerk voeg by: “Uitsette van ons navorsing sal die ontwikkeling van geneesmiddels bevoordeel en ons begrip van meganismes in die brein bevorder. Daar is nog soveel wat ons nie van neurodegeneratiewe toestande weet nie, maar deur in silico-modellering aangespreek kan word."

Volgens prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, is hierdie vennootskap 'n goeie aanduiding van die US se wêreldwyd erkende navorsingskundigheid. “Dit is navorsing vir impak – die gebruik van ons navorsingskundigheid om die samelewing ten goede te verander en om 'n positiewe verskil in mense se lewe te maak."