Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Prof Plaatjies-Van Huffel, of "Ma" Plaatjies-Van Huffel, is in 2020 oorlede kort nadat sy die eerste swart vroueprofessor in die Fakulteit Teologie geword het. Sy was 'n vreeslose protagonis vir die rol van vroue in die kerk in Suid-Afrika en in teologie, toe sy as die eerste vrou in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika georden is en ook as die eerste vrouemoderator van die Algemene Sinode van dié kerk verkies is. Sy het ook gedien as Afrika-president in die Wêreldraad van Kerke en as 'n toegewyde mentor vir talle jong akademici en kerkleiers.

Die MA Plaatjies-van Huffel-beursfonds, soos dit voortaan bekend sal staan, sal verseker dat haar droom om jong akademici uit die familie van Gereformeerde kerke in Afrika te bemagtig, bewaarheid sal word. Die fonds sal jaarliks nagraadse studente van die Gereformeerde kerkfamilie ondersteun om navorsing in Kerkbeleid en Kerkgeskiedenis te doen.

Prof Reggie Nel, Dekaan van die Fakulteit Teologie, het gesê hierdie skenking sal verseker dat prof Plaatjies-Van Huffel se missie op haar vasberade, maar beskeie manier sal voortduur.

"In die gees van wie sy was, sal veral swart vrouestudente van ons vasteland vir hierdie fonds oorweeg word. Hierdie groep is histories benadeel, nie net deur politieke en sosio-ekonomiese onreg nie, maar ook deur 'n patriargale samelewing wat vroue nie bevry of in staat stel om loopbane na te streef nie."

Ds van Huffel het gesê dié beurs stel hom in staat om sy vrou se wense, wat verder strek as die mure van die lesinglokaal, te vervul.

"My vrou het baie geseënd gevoel vanweë haar prestasies en die geleentheid om aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch klas te gee. Sy was altyd bekommerd oor die minderbevoorregte studente wat oor die vermoëns, maar nie die middele beskik om hul studies voort te sit nie.

"Kerkbeleid en kerkgeskiedenis was die onderwerpe wat sy liefgehad en aangebied het. Daar is altyd 'n gebrek aan beurse vir hierdie kursusse. Deur hierdie beurs wil ek en die Plaatjies-gesin my oorlede vrou se baanbrekerswerk eer en haar nalatenskap sien voortbestaan."

Hy het kommer uitgespreek oor die gebrek aan begrip van Kerkbeleid onder sommige kerklidmate en geestelikes gedurende hierdie uitdagende en veranderde tye.

"As hulle egter die vorm of proses van burgerlike bestuur in die Kerk verstaan, kan hulle ingeligte besluite neem. Die navorsing van ontvangers van die MA Plaatjies-van Huffel-beursfonds kan die Kerk help om 'n veranderende wêreld en samelewing daar te stel," het hy gesê.

Die fonds is formeel by die Mary-Anne Plaatjies-van Huffel-gedenklesing van stapel gestuur en die eerste toekenning vir 2023 is reeds gemaak.