Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Volgens Vanessa Reyneke, projekkoördineerder by die US Handlab, sal hulle die R1,6 miljoen wat hulle ontvang het, gebruik om bestaande leemtes in die huidige SASL-kurrikulum aan te vul. Hulle sal ook begin om nuwe materiaal vir elke graad te ontwikkel om toe te sien dat die kurrikulummateriaal aktueel en bygewerk is.

"Die ontwikkeling van kurrikulummateriaal in SASL is ’n lang en duur proses wat baie tyd en inspanning verg.

"Ons spits ons toe op SASL as ’n vak, maar ander vakke soos wiskunde en lewensoriëntering het ook materiaal in SASL nodig. Daar is ook ’n groot behoefte aan SASL-materiaal vir die Vroeëkinderontwikkelingfase (VKO), wat ’n Dowe kind se aanleer van taal in SASL beïnvloed," verduidelik Reyneke.

"Die verbetering van die opvoedkundige geleenthede van kinders wat met gestremdhede leef, is vir die Jannie Mouton-stigting belangrik, en ons ondersteun graag die werk wat Handlab in hierdie verband doen," sê Pieter du Plessis, Bestuur van die Stigting.

Die US Handlab word hoofsaaklik deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys befonds en bedien skole in die Wes-Kaap. Die materiaal word ook aan die Departement van Basiese Onderwys voorgelê vir goedkeuring en word dan deel van die nasionale katalogus waar ander skole vir Dowes dit kan aankoop.

"Taalontwikkeling is baie belangrik, en ons skole landswyd is desperaat vir inhoud," sê Reyneke.

Daar is ses skole vir Dowes in die Wes-Kaap, en ongeveer 1 500 Dowe leerders vind baat by die inhoud wat deur die US Handlab ontwikkel word.

"Dit is hoekom ons so dankbaar is vir hierdie skenking. Hoewel ons in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe by die US gesetel is, moet ons ons eie fondse insamel om ons werk voort te sit."

Die projek werk ook aan ad hoc-projekte wanneer hulle spesifiek geld daarvoor ontvang.

Verlede jaar het hulle geld van die US se Afdeling vir Sosiale Impak en die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang om Covid-19-verwante inligting toegankliker te maak vir ’n Dowe gehoor deur inligtinghulpbronne in SASL te skep – deur Dowe mense vir Dowe mense.

Nadat hulle voorsien het in die dringendste behoeftes vir inligting om fisiek gesond te bly, het hulle gefokus op Covid-19 se uitwerking op geestesgesondheid deur ’n webwerf (www.wieisek.co.za) wat aan die onderwerp gewy is, in SASL te vertaal.

"Ons het baie positiewe terugvoering ontvang. Een vrou het gesê dat nadat sy toegang tot hierdie inligting gekry het, sy die woorde gehad het om te beskryf wat sy ervaar het, wat angstigheid was, en dat sy uiteindelik die hulp kon kry wat sy nodig gehad het om gesond te word.

"Mense se lewens verander wanneer hulle die vermoë en taal het om hulself uit te druk."