Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Alle graad 12-leerders wat by die Elangwane Sekondêre Skool ingeskryf is, het toegang tot die bykomende leerplatform ontvang as deel van ’n loodsprojek tussen die Departement en die Universiteit Stellenbosch.

Die skool is een van ’n paar wetenskapskole in die land en is deur die provinsiale departement gekies om deel van die projek te wees. Die loodsprojek is deel van ’n groter plan deur die Departement om SU Advantage aan meer skole in die provinsie beskikbaar te stel – veral in skole waar hulpbronne beperk is.

SU Advantage is kort voor die aanvang van die halfjaareksamen wat in Junie plaasvind by die skool ingestel. Leerders het vir die res van die akademiese jaar toegang tot die platform, wat hulle in staat sal stel om die voordele van SU Advantage ook met die oog op die eindeksamen te pluk.

“SU Advantage bied kort geanimeerde videolesse wat die belangrikste aspekte opsom van elke onderwerp wat leerders in die klas behandel. Die doel van hierdie videolesse is om te verbeter op die dinge wat die leerders in die klas mee te doen kry en te verduidelik hoe leerders kan verwag dat die werk in toetse en eksamens geassesseer sal word,” verduidelik dr Benedict Khoboli, Direkteur van die Stellenbosch Universiteit Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP).

Ná elke videoles kan leerders ’n aanlyn vasvra aanpak om hulle begrip van die studiemateriaal te toets. Indien dit blyk dat verdere ondersoek van sekere onderwerpe vereis word, voorsien SU Advantage werkboeke in elke vak waarin sleutelbegrippe wat leerders moet ken verder verduidelik word.

Die leerders aan die Elangwane Sekondêre Skool beskik reeds oor tablette wat die Departement van Onderwys in die provinsie aan hulle beskikbaar gestel het. Noudat hulle toegang tot SU Advantage het, kan hulle die toestelle ten volle as deel van hul voorbereidings vir toetse en eksamens gebruik.

“Ek gebruik SU Advantage vir studie in al my vakke. Dit is handig om te gebruik, veral omdat ons nie hardekopiehulpbronne vir sommige vakke beskikbaar het nie. Die videolesse help my om die werk wat ons moet ken baie beter te verstaan,” sê Siyabonga Nkwanyana, ’n graad 12‑leerder by die skool.

As deel van die loodsprojek het SUNSEP verteenwoordigers na die Elangwane Sekondêre Skool gestuur om opleiding aan onderwysers en leerders te voorsien in hoe om SU Advantage doeltreffend  te gebruik ter ondersteuning van hulle beplanning, onderrig en assessering.

Onderwysers by die skool omarm SU Advantage as deel van hul onderrigtegnieke. Verskeie opvoeders by die skool gebruik die voorafopgestelde vasvrae en werkboeke wat deel van die platform uitmaak as huiswerkopdragte vir die leerders in hulle klasse. Hierdie assesserings word outomaties via SU Advantage nagesien en onderwysers kan die resultate op ’n doelgemaakte kontroleskerm vir verslaggewing nagaan om hulle ’n algemene oorsig te gee van hoe hulle leerders met SU Advantage omgaan.

Leerders by die skool sien boonop ’n merkbare verbetering in hulle punte sedert hulle SU Advantage begin gebruik. Hulle vind die platform se gebruikersvriendelike ontwerp en inhoudelike akkuraatheid aantreklik.

“SU Advantage is die beste platform. Dit is maklik om te gebruik en verskaf die beste inligting om met jou studies te help. Dit help jou gewis akademies,” sê Chichi Mabele, ’n graad 12‑leerder aan die Elangwane Sekondêre Skool.

SU Advantage is in Maart vanjaar bekend gestel en daar is sedertdien honderde leerders oor die hele land wat op die platform ingeteken is. Vele van hulle het SU Advantage as deel van hul studies vir die halfjaareksamen gebruik.

“Ons werk voortdurend aan nuwe maniere om SU Advantage te verbeter. Een van ons nuutste toevoegings tot die platform is regstreekse lesse wat in die derde kwartaal begin. Leerders sal aan daaglikse regstreekse lesse kan deelneem in alle vakke wat op SU Advantage beskikbaar is. Hierdie lesse word ná skoolure aangebied en is bedoel om al die werk te konsolideer wat leerders tot op daardie tydstip volgens die nasionale jaarlikse onderrigplanne behoort te ken,” verduidelik Francois van Louw, stigter van SOCO_ED, die maatskappy wat SU Advantage saam met die Universiteit Stellenbosch ontwikkel het.

Wil jy graag die jeug bemagtig? Kontak asseblief vir Sonia Schoeman by sonia@sun.ac.za of +27 21 808 2830.