Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Om hierdie rede sal ’n gebou in Banghoekweg in Stellenbosch opgeknap word. Dié gebou sal na verwagting die Phumelela-sentrum genoem word, wat "om sukses te behaal" beteken in Zoeloe.

"Beursskenkers is vrygewige en ruimhartige mense wat skenkings maak om studente se opvoedkundige doelwitte te ondersteun. Ons weet dat ons ons aanbieding vir hierdie belangrike skenkers moet verbeter,” sê Karen Bruns, Senior Direkteur van die Afdeling.

Die doel van hierdie gebou sal wees om ’n ruimte vir onderhoude en ontmoetings met individuele studente, ’n bymekaarkomplek vir sosiale geleenthede tussen beurshouers en skenkers, en ’n opleidingsruimte te verskaf.

’n Deel van hierdie gebou sal deur die Michael & Susan Dell-stigting (MSDF) benut word. Die MSDF is ’n skenker wat in die VSA gebaseer is en groot beursprogramme by die Universiteit van Kaapstad en Universiteit van Pretoria bestuur, en van 2020 af ook by die Universiteit Stellenbosch deur die Dell Young Leaders-program.

Die MSDF-toekenning maak nie net voorsiening vir beursondersteuning aan studente nie, maar ook vir ’n allesomvattende ondersteuningsprogram om studentesukses te verseker. Die toekenning maak ook voorsiening vir ’n ruimte waar die program bedryf kan word, waar personeelaanstellings en gekontrakteerde fasiliteerders gehuisves kan word, en wat as ’n ontmoetingspunt vir studente in die program op kampus kan dien.

"Daar word van ons verwag om soortgelyke beursprogramme wat ontmoeting- en fasiliteringsruimtes vir interaksie met hul studente vereis, te ondersteun. Dit sluit in die Moshal-stigting, die Crossley-stigting, die Allan Gray Orbis-stigting, Students for a Better Future, en die Tomorrow Trust, om maar ’n paar te noem,” verduidelik Bruns.

"Toe ons R2,1 miljoen van die Metje Trust af ontvang het, tesame met die MSDF-bydrae vir hierdie ruimte, het ons die groot stap geneem om ’n sentrum te skep waar ons skenkers hul studente kan ontmoet, vir hulle werkswinkels kan aanbied, hulle kan oplei, en so voorts.

"Die opgeknapte ruimte sal die Universiteit help om ’n beter diens aan ons groot skenkers te lewer, en erken die welstand en waardigheid van ons studente deur holistiese ondersteuning te bied."

Die sentrum sal kantoorspasie, ontmoetingsvertrekke, niepermanente werkplekke vir besoekende studente en personeel, ’n gesprek- en wegbreekruimte, en ’n vergaderlokaal vir 12 tot 14 mense insluit.