Digitale Skenkersnuusbrief | Winter 2022

Die Universiteit se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB) het onlangs die #Maties4Namibia-beursondersteuningsfonds geloods om te verseker dat Namibiese Maties – wat almal aan die akademiese vereistes voldoen vir toelating tot hul gekose kursusse – bykomende finansiële ondersteuning ontvang om hul studiekostes te dek.

“Deur aanvullende beurse aan hierdie talentvolle studente te bied, verseker ons dat ons ‘n bydra lewer tot kennisproduksie op ons vasteland en die Universiteit se verbintenis tot uitnemendheid handhaaf,” sê Karen Bruns, Senior Direkteur van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge.

“Met die wêreld ekonomie wat steeds gebuk gaan onder die gevolge van die Covid-19-pandemie, voldoen huidige befondsingsmodelle nie aan die behoeftes van 'n groeiende studentekohort en oorstrekte universiteitsbegrotings nie. Die vinnig veranderende hoëronderwysomgewing in Suid-Afrika verteenwoordig 'n veranderende ekonomiese landskap wat die ontwikkeling van nuwe modelle vir die finansiering van studenteondersteuning vereis.

“Baie van ons Matie-families is nadelig geraak tydens die pandemie. Dit is ook die harde werklikheid vir baie Namibiese Maties, aangesien daar 'n duidelike behoefte is om 'n fonds te skep wat finansieel-behoeftige Namibiese studente kan ondersteun met óf registrasiefooie aan die begin van die jaar óf kan help om studenteskuld te delg teen die tyd dat hulle gradueer," voeg Bruns by.

Volgens Randall Adams, fondswerwer by die OAB, toon die Universiteit se rekords dat daar tans 270 Namibiese studente is met min tot geen bron van befondsing vir hul studies in 2022. "Teen die einde van Desember 2021 het hul opgehoopte skuld net meer as NAD 8 750 098 beloop."

Adams sê die eerste doelwit is om finalejaarstudente te help wat vanjaar kon registreer, maar nie kan bekostig om al hul studenteskuld te dek teen gradetyd in Desember 2022 nie. Tweedens poog die fonds om studente wat in 2023 terugkeer, te help om vir daardie akademiese jaar te registreer.

"Ons vra ons alumni en donateurs in Namibië om in vennootskap met ons te gaan en ‘n skenking aan hierdie nuwe Fonds te maak. Dit is slegs deur 'n kollektiewe samekoms dat ons ons jongmense kan help om die toppunt van hul sukses te bereik," sê Bruns.

Individue wat van buite Suid-Afrika aan die Fonds wil skenk, kan 'n betaling in die Universiteit se First Nasional Bank openbare sektor tjekrekening maak. Die rekeningnommer is 62107177083, die takkode 200610, en die Swift-kode FIRNZAJJ.

Gebruik asseblief jou naam, van en #Maties4Namibia as verwysing wanneer jy bewys van betaling aan die Fonds-projekkoördineerder Randall Adams by adamsr@sun.ac.za stuur.

Vir meer inligting oor #Maties4Namibia, kontak Randall Adams by adamsr@sun.ac.za of +27 79 297 6547.