Welkom by die digitale tuiste van die eerste Akademieskap van Onderrig en Leer-konferensie van die Universiteit van Stellenbosch (US)

Die Afdeling vir Leer‑ en Onderrigverryking vier steeds aanbiedings wat by die 2020 US Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) Virtuele Konferensie gelewer is

Die heel eerste Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) Virtuele Konferensie van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Woensdag 4 November 2020 plaasgevind. Te oordeel na die positiewe terugvoer was dit ’n dawerende sukses en ’n opwindende viering van onderrig en leer (O&L) aan die US. Die konferensie bied akademici ’n ruimte vir refleksie oor en die deel van innoverende praktyke voortspruitend uit die unieke onderrigomstandighede wat met Noodafstandsonderrig, ‑leer en ‑assessering gepaard gaan. Afgevaardigdes kon hul navorsingsbevindinge, innoverende idees en refleksies met mekaar deel.

Die konferensietema was “Vier, Waardeer en Besin in die e-omgewing”, afgekort as “CARe”. Die tema het ontstaan uit die besef dat akademici geweldige druk ervaar met die migrasie na Noodafstandsonderrig, ‑leer en ‑assessering (NAOLA), aangesien hulle verskeie aspekte soos die gesin, tuiswerk en studente met probleme moet hanteer. Akademici wil ervaar dat die Universiteit hulle waardeer en ondersteun, en die VvOL-konferensieruimte bied ’n uitstekende manier om opnuut hierdie soort gerusstelling te bied deur die konferensiesessies wat aan CARe-kwessies ensovoorts aandag gee.

In plaas van die gebruiklike hoofspreker by die konferensie was daar vanjaar ’n CARe-hoofpaneel, in pas met die konferensietema. Die doel van die CARe-hoofpaneel was om ’n gedeelde en refleksiewe ruimte te skep waar die stemme van die bestuur, dosente, professionele steunpersoneel en die studente gehoor kan word. Dit is aangebied in die vorm van werklik outentieke en opregte digitale verhale. Hierdie verhale het aspekte aangeraak soos hoe die bestuur op die sorgbehoeftes van die personeel en studente reageer en op vele en uiteenlopende maniere deernis toon; die uitdagende, maar uiters lonende versorgingswerk wat gedoen word; en die positiewe, oop en omgee‑reaksies van die Universiteit op die behoeftes van studente, om hulle in staat te stel om “effektief te funksioneer en te oorleef”.

Indien jy nie die konferensie kon bywoon nie, het jy voorwaar ’n wonderlike O&L-geleentheid misgeloop. Die goeie nuus is dat jy toegang tot die opnames van die aanbiedings per e-pos by dr JP Bosman (jpbosman@sun.ac.za) kan aanvra, om die viering van al die wonderlike aanbiedingsuitsette by die konferensie te kan voortsit. Indien jy belangstel in navorsing in O&L of inspirasie daarvoor benodig, durf jy nie hierdie geleentheid misloop nie. Aanbiedings sluit ’n wye verskeidenheid temas in soos nagraadse onderrig, studentesteun en ‑sukses, die transformasie van die kurrikulum, programvernuwing en opvoedkundige leierskap, om maar ’n paar te noem. Bestudeer gerus die konferensie‑opsommingsboek wat hier beskikbaar is.

Nog ’n hoogtepunt van die konferensie was die bekendstelling van ’n aanlyn boek getiteld Responding to the necessity for change: Higher Education voices from the South during the COVID-19 crisis (’n Reaksie op die noodsaaklikheid van verandering: Hoëronderwysstemme uit die Suide tydens die COVID-19-krisis). Die boek bied eerlike, refleksiewe insigte in die vakkundige en praktiese aktiwiteite van ’n proporsie van die personeellede wat betrokke is by die deurlopende ondersteuning van gesonde onderrig-, leer- en assesseringspraktyke in die tydperk van Noodafstandsonderrig, ‑leer en ‑assessering. Die skrywers vier lesse wat geleer is, maar poog ook om op geleenthede vir verandering en verdere kritiese besinning voort te bou.

In die woorde van een van die VvOL-konferensie se hoofpaneelaanbieders, “Laat ons ons energie daarop toespits om die nuwe te bou …” en O&L aan die US die beste te maak!

Vir verdere inligting stuur ’n e-pos aan dr Anthea Jacobs by jacobsa@sun.ac.za.

___________________________________________________________________________________________________

Baie geluk aan hierdie 2020 SoTL-pryswenners !!

*** Neem asseblief kennis dat die interne konferensie gratis is en bywoning uitsluitlik  vir Universiteit Stellenbosch akademici bedoel is***

Om ’n idee te kry van vorige konferensies, kliek gerus op die Vorige konferensies spyskaartitem hierbo of hier.