Hokkiekamp deel van Maties Hokkkie se uniekheid

HokkieKamp-7937

Die Steinhoff Maties Hokkiekamp is ‘n belangrike bestandeel in die resep wat gebruik word om die Universiteit Stellenbosch se hokkieklub van die res te onderskei.

Vanjaar was die 33ste kamp wat die Steihoff Maties Hokkieklub aangebied het. Daar was 24 spanne van 13 skole by die kamp. Sowat 50 lede van die klub was betrokke by die kamp. Van die skole wat deelgeneem het, was Stellenbosch, Overberg, Hermanus, Sentraal en Glenwood House.

By die kamp is spelers van die verskeie skole in groepe opgedeel en elke groep het ‘n afrigter – Maties-speler – gekry. Hulle het afrigting in alle aspekte van die spel ontvang. Die skole se afrigters was ook by die kamp en het gespesialiseerde sessies by voormalige internasionale afrigters Jenny King en Paul Revington gekry. Dit was King se 26ste kamp. Sy was as speler en afrigter betrokke.

Maties se Adene Bennett, Vida Ryan en Vidette Ryan het almal al twee handevol kampe bygewoon. Bennett en Vidette het vanjaar hul 12de kamp bygewoon en Vida was deel van haar 11de.

“Om ten volle die kamp te kan verstaan, moet jy dit bywoon,” het Vidette vertel. “By die kamp kry skoolkinders die geleentheid om deur internasionale spelers – wat dalk net hul helde mag wees – afgerig te word. Ons het voormalige en huidige nasionale spelers by die klub en die meeste van hulle is by die kamp.” Beide Vida en Vidette was al by die Olimpiese Spele en huidige nasionale spelers Dylan Swanepoel, Pierre de Voux, Keenan Horne en Daniel Bell was deel van die kamp.

Vida het bygevoeg: “Elke aspek van hokkiespeler wees, word aangespreek. Hoe om te speel, jou ingesteldheid en ook dit wat hulle gaan help om beter as die gewone speler te wees. Die kamp is ‘n groot deel van wat die hokkieklub oor gaan.”

Volgens Vida en Vidette speel die kamp ook ‘n groot rol in die ontwikkeling van die speler-afrigters.

This entry was posted in Club. Bookmark the permalink.