Bewaringsekologie

Bewaringsekologie

Ons spesialiseer in die volhoubare bestuur van plant- en dierespesies, ekosisteme en die goedere en dienste wat hulle verskaf in hoofsaaklik benutbare landskappe. Navorsing word gedoen oor en studente word opgelei deur die toepassing van kennis van die funksionering en ekologie van plant- en dierepopulasies en van komplekse, lewende gemeenskappe vir die bestuur van natuurlike hulpbronne en landskappe. Ons navorsing het te doen met die bewaring en volhoubare gebruik van woudbome, natuurlike weiding, krokodille en ander wildsoorte, die voorkoming en beheer van bosindringing, uitheemse indringerplante en probleemdiere, die bestuur van spesies, ekosisteme en omgewingsprosesse in formele en privaat bewaringsgebiede juis in gefragmenteerde landskappe, die vermindering en herstel van skade wat deur landbou (byvoorbeeld oorbeweiding), ontwikkeling en mynbou veroorsaak word, die sosiale behoeftebepaling van plattelandse gemeenskappe, die ruimtelike voorkeurbeplanning vir beter besluite by bewaringsoptrede, en die gebruik van sosiale onderriginstellings vir die aanpasbare bestuur van benutbare landskappe.

Entomologie

Die toegepaste navorsing is grotendeels gerig op die geïntegreerde bestuur van myt- en plaaginsekte en die begrippe, grondslag en toepassing van die bestuur op veral sagtevrugte, vrugtevliegbeheer in die vrugtebedryf, naoesentomologie en entomofage nematodes. Basiese navorsing word gedoen oor morfologie en sistematiek, veral op Lepidoptera en insekfossiele en die fisiologie en ekologie van fynbosinsekte. Die Departement huisves 'n uitgebreide versameling insekte vir studiedoeleindes. 'n Nuwe, opwindende en toepaslike studieveld in die Departement gaan oor die uitwerking van landbou- en bosbouaktiwiteite op die landskap, plant- en dierverskeidenheid en watervoorsiening. Die klem word gelê op insekbewaringsekologie in Suidelike Afrika en die Wes-Indiese Oseaan-eilande.

Nagraadse kwalifikasies

Kyk algemene nagraadse inligting hier. Kyk Jaarboekinligting by onderste skakels.

MSc in Bewaringsekologie (navorsing)

PhD in Bewaringsekologie (navorsing)

MSc in Entomologie

PhD in Entomologie

DSc in Entomologie