Opvoedkunde

Die Fakulteit se navorsingsprogramme fokus op relevante en strategies belangrike temas in die opvoedkunde en in sportwetenskap om oplossings vir eietydse probleme in die opvoedkunde, oefening en sportwetenskap te vind. So dra ons by tot die ontwikkeling van die onderwys en menslike bewegingswetenskappe in Suid-Afrika. Hierdie navorsing, wat 'n impak het op alle onderrigprogramme, word gedoen in die konteks van sowel plaaslike as internasionale behoeftes. In die lig van hierdie strategiese kwessie is die sentrale fokus vir toegepaste navorsing in die Fakulteit Opvoedkunde die ontwikkeling van menslike potensiaal in 'n diverse gemeenskap. Die vier departemente het elk 'n komplementêre fokus wat by dié breë navorsingsfokus van die Fakulteit aansluit.

Onderwyseropleiding vir die Senior en Verdere Onderwys- en Opleidingsfases

As jy 'n hoërskoolonderwyser wil word, kan jou voorgraadse studie by 'n ander fakulteit die wegspringplek vir nagraadse studie in opvoedkunde wees. Kyk ons Nagraadse Onderwyssertifikaat.

As jy in besit is van 'n driejarige onderwyskwalifikasie, maar jy voldoen nie aan die toelatingsvereistes vir universiteitstudie nie, kan jy steeds inskryf vir ons Gevorderde Diploma in Onderwys (GDO). Klik hier vir ons brosjure oor programme wat deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) aangebied word.

Lektorsopleiding vir Hoër Onderwys

Die Nagraadse Diploma in Hoër Onderwys (Onderrig en Leer) is afgestem op die professionele behoeftes van dosente en leerfasiliteerders. Lees meer daaroor onder die Departement Kurrikulumstudie.

Honneurs-Baccalaureus in die Opvoedkunde (HonsBEd)

Ons splinternuwe HonsBEd-programme is ontwerp om jou kennis en ervaring in die spesialiseringsgebied van jou keuse te verdiep en te verryk. Jy word so toegerus om betekenisvol tot die versterking en verbetering van onderwys in Suid-Afrika by te dra.

Vier nuwe programme word nou deur medium van gemengde leer, oftewel gemengdemodusonderrig, in die volgende spesialisasierigtings aangebied:

  • Opvoedkundige Ontwikkeling en Demokrasie
  • Opvoedkundige Ondersteuning
  • Grondslagfase-onderwys
  • Taalonderwys

'n Program met die spesialiseringsgebied Kurrikulumondersoek is ook al ontwikkel en aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding voorgelê vir goedkeuring en akkreditasie. Sodra die proses afgehandel is, kan ons die program ook aanbied.

Kliek hier vir ons HonsBEd-programme se brosjure.

Vir meer inligting oor die programme wat ons deur middel van gemengde leer via die telematiese platform aanbied, lees hier.

Vir meer inligting

Fakulteitsadministrateur: Me Eune Louwrens

Tel: +27 (0)21 808 9111

E-pos

Webwerf