Agriwetenskappe

'n AgriWetenskappe-graad beteken jy beskik oor 'n kwalifikasie waarmee jy op nasionale en internasionale vlak kan saampraat. Jy sal deel wees van 'n span kundiges wat hoog in aanvraag is in Suid-Afrika, in Afrika en in die res van die wêreld. Daar is 'n verskeidenheid van uitdagende beroepsgeleenthede in die landbou-, bosbou- en bewaringsbedrywe wat op jou wag - van die mees praktiese tot hoogs tegnologiese beroepe. Verskeie bestuursaspekte, soos dié van menslike hulpbronne, van finansies, van plante en diere, van toerusting en van die omgewing word ook ingesluit. Afgestudeerde studente kan kies om in die natuur, in laboratoriums of in sake-omgewings te werk. Die suksesse van ons afgestudeerde studente in die arbeidsmark is welbekend en vele van ons graduandi beklee reeds vroeg in hul loopbane belangrike bestuursposisies of vervul leierskapsrolle in hul onderskeie spesialisgebiede.

   Lan?dbou-, bosbou- en bewaringsekologie-opleiding

Die grootste uitdagings wêreldwyd is om voedsel aan 'n vinnig groeiende getal mense op aarde te voorsien; om toe te sien dat voedsel en voedselbronne veilig en onbesoedel is en om die omgewing só te gebruik en te bestuur dat dit behoue sal bly vir die nageslag.

Die Fakulteit AgriWetenskappe speel reeds vir 100 jaar 'n kernrol in dié groot uitdaging. Ons lei kundiges vir die landboubedryf op in elk van die vier breë bedryfsvelde van die arbeidsmark, naamlik plant-, grond- en bewaringswetenskappe; diereproduksiestelsels; voedsel- en wynproduksiestelsels; en landbou-ekonomie en -bestuur en, in samewerking met die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding: Elsenburg, ook in toegepaste landbouproduksie en -bestuur. Met ons onderrigprogramme fokus ons daarop om studente met die teoretiese, tegnologiese, praktiese en generiese vaardighede toe te rus wat noodsaaklik is vir veilige en volhoubare vesel- en voedselproduksie en voedselsekuriteit. Ons afgestudeerde studente is goed toegerus om kreatiewe en probleemoplossende benaderings te volg om die komplekse en uitdagende landboustelsels te bestuur.

Die Universiteit Stellenbosch is die enigste universiteit in Suid-Afrika wat volledige voorgraadse programme in bewaringsekologie, wingerd- en wynkunde en in bosbou en houtwetenskappe aanbied. Hierdie programme is alombekend in Afrika en studente van al ons buurlande, van verder uit Afrika, Europa en selfs Suid-Amerika, kom hierheen vir opleiding. Die opleiding is wetenskaplik van aard, maar ook praktykgerig. Reeds van die eerste jaar af neem studente deel aan ekskursies, praktiese besoeke en toere na bedryfsomgewings.

Elkeen van ons opleidingsprogramme lei tot 'n baccalaureusgraad wat jou toerus om feitlik enige beroep van jou keuse in die grotere bedryfsveld suksesvol aan te pak. Ná die verwerwing van 'n baccalaureusgraad kan jy jou deur nagraadse studie verder bekwaam. Jy kan jou loopbaangeleenthede aansienlik verbreed deur opeenvolgend 'n magister- en later selfs 'n doktorsgraad in een van die spesialiteitsvelde van die onderrigprogramme te verwerf onder die leiding van een of meer van ons wêreldklasnavorsers.

Ons noem by elke program die nagraadse kwalifikasies wat daarop volg. Na ons vierjarige baccalaureusgrade kan jy direk voortgaan met 'n magistergraad, maar na 'n driejarige baccalaureus verwerf jy eers 'n honneursgraad of 'n nagraadse diploma.

Vir ons Fakulteit se amptelike keuringsriglyne, kyk hier. Raadpleeg gerus ons Jaarboek vir meer inligting oor die programme se leerplanne.

   Versterk jou akademiese basis

Party voornemende studente vind dit moeilik om hul potensiaal te bereik. Dit kan wees as gevolg van vele redes, insluitende ontoereikende skoolopleiding. Indien jy so 'n student is, of indien jy graag jou akademiese grondslag wil versterk om seker te maak dat jy suksesvol studeer, kan jy dit dalk oorweeg om 'n verlengdekurrikulumprogram te doen.

   Navrae

Kliëntedienssentrum

Tel: 021 808 9111

Faks: 021 808 3822

E-pos

Webwerf