Matie-stemme

Nondumiso Mzizana

Alumna van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“Op die ou end is ek egter steeds daardie dokter wat na die beste maniere moontlik soek om pasiënte gemaklik te maak.”

Sy is aanvanklik nie aanvaar vir haar eerste studiekeuse om ’n mediese universiteitsgraad te volg nie. Gelukkig vir dr Nondumiso Mzizana het dit daartoe gelei dat sy haar werklike passie in die lewe ontdek het.

“Ek wou nog altyd met pasiënte werk en dis waarom ek aansoek gedoen het om ’n mediese dokter te word. Toe ek nie kon inkom nie, het ek op ’n BSc besluit met die hoop dat ek later van kursus kon verander,” onthou sy.

“In my eerste jaar het die gedagte dat ek graag met mense wil werk weer en weer by my opgekom. Ironies genoeg het ek ook in dié tyd besef soveel bloed en lyding is nie vir my nie.”

Tandheelkunde was waar Nondumiso haar nis gevind het. Vandag het sy ’n graad van die Mediese Universiteit van Suid-Afrika en ’n nagraadse diploma in tandheelkunde van die Universiteit Stellenbosch (US).

Sy beskryf die professie as sowel wetenskaplik as kunstig.

“Wanneer ons in ’n pasiënt se mond werk om ’n gaatjie te herstel moet ons driedimensioneel dink, anders sal die stopsel nie behoorlik inpas nie, en nie gemaklik voel of mooi lyk nie. Volgens my vereis dit kunstigheid.

“Wat die wetenskaplike aspek betref, moet jy al jou toerusting, kennis en materiale kan gebruik sonder dat die pasiënt te veel pyn of ongemak hoef te verduur.”

Sy het die beginsel van 3D denke ook na haar eie lewe uitgebrei en vandag is sy die president en stigterslid van die maatskappy Sikelela Medical, Dental and Pharmaceutical Suppliers.

“Gedurende my beginjare as ’n tandarts het ek opgelet dat daar werklik min toerusting beskikbaar is vir geneeskundige praktisyns, veral hoe verder mens van die stede af wegbeweeg.”

Sikelela beskik oor ’n netwerk wat van pasiëntmoniteringstoerusting, X-straal- en ultraklankmasjiene tot defibrillators en kardiologietoestelle verskaf. Die voorsieningsgebied sluit in Suid-Afrika, sowel as groot dele van die res van die vasteland.

Nondumiso is ook die stigter van Success Summit, ’n inisiatief wat entrepreneurs via werkswinkels en opleidingsessies ontwikkel; asook ’n beursinisiatief wat tot dusver 20 vroulike mediese tegnici opgelei het.

Haar pogings as geneeskundige praktisyn en entrepreneur het egter nie ongemerk verby gegaan nie. In 2011 het die Vereniging van Sakevroue van Suid-Afrika haar as die Sakevrou van die Jaar benoem en African Business News het haar al voorheen as invloedrykste Sakevrouleier in Suid-Afrika genomineer.

“Op die ou end is ek egter steeds daardie dokter wat na die beste maniere moontlik soek om pasiënte gemaklik te maak wanneer hulle geneeskundige praktisyns besoek.”

- Deur Steyn du Toit -