Matie-stemme

Ntsiki Biyela

Alumna van die Fakulteit AgriWetenskappe


“Wynproe draai om die herinneringe. Dit roep miskien ’n prentjie uit jou kinderjare op, of dit skep nuwe herinneringe vir die toekoms.”

As jong meisie was Ntsiki Biyela ’n beeswagter naby haar dorpie Mahlabathini in die landelike gebied van KwaZulu-Natal. Vandag is sy die land se eerste swart, vroulike wynmaker wat haar wyn na die VSA, Duitsland, Nederland, Taiwan en Ghana uitvoer.

Dit is reeds ’n merkwaardige prestasie — daar is immers minder as 10 professionele swart wynmakers in Suid-Afrika vandag — maar die feit dat sy eers as student met wyn kennis gemaak het, maak dit soveel meer indrukwekkend.

“Om die waarheid te sê, het ek eers nie van die smaak gehou nie,” erken Ntsiki, wat in 1999 die eerste maal Stellenbosch toe gekom het om ’n BSc-graad in wingerd- en wynkunde te volg.

“Namate my studie gevorder het en ek myself meer en meer in die wyn en die wynkultuur kon verdiep, het ek egter geleer om sowel die produk as die vakmanskap daaragter te waardeer.”

Sy verwys na die passie en chemie wat in die maak van ’n uitsonderlike bottel wyn ingaan en sê dit is hierdie dualiteit wat haar steeds na die bedryf aantrek.

“Wanneer mens wyn maak, moet jy die mikrobiologie en chemiese prosesse verstaan wat daarmee verband hou.

“Terselfdertyd is daar ’n kunstige element by betrokke deur die versnyding en die uiteindelike proeproses.”

Dit is ’n delikate kombinasie wat hierdie voormalige SA Vrouewynmaker van die Jaar met die tyd verfyn het, eers as wynmaker vir die boetiekwynprodusent Stellekaya—’n posisie wat sy vir 13 jaar beklee het—en nou as die eienaar van Aslina Wyne (www.aslinawines.co.za).

Die maatskappy wat in 2017 gestig is en na Ntsiki se oorlede ouma vernoem is, produseer vier pronkhandelsname. Die maatskappy se teiken is om ongeveer 18 000 bottels teen die einde van die jaar te produseer.

“Vir my draai wynproe om die herinneringe. Dit roep miskien ’n prentjie uit jou kinderjare op, of dit skep nuwe herinneringe vir die toekoms.

“Een van my gunstelingreaksies was toe iemand ná die proe van my wyn gesê het dit roep die beeld van ’n elegante vrou in ’n asemrowende aandrok op.”

Buiten dat sy bekroonde wyne produseer, bly Ntsiki ook verbind tot die sosiale en ekonomiese opheffing van diegene wat vantevore uitgesluit was van die landbou- en wynbedryf.

“Ek dien op die raad van die Pinotage Jeugontwikkelingsakademie, ’n organisasie wat aan jongmense uit voorheen benadeelde agtergronde persoonsvaardighede en tegniese opleiding verskaf.”

- Deur Steyn du Toit -