Matie-stemme

Thuthuka Sibisi

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Hetsy bewustelik of onbewustelik verstaan ek die wêreld om my deur kuns.”

Die Drakensberg-seunskoor het deur die jare al verskeie bekende kunstenaars opgelewer. Een so ’n suksesverhaal is Thuthuka Sibisi, ’n gevierde jong koordirigent, musiekdirekteur, komponis en visuele en uitvoerende kunstenaar.

“Dat ek Drakensberg toe kon gaan, was vir my regtig ’n katalisator om die kunstenaar te word wat ek vandag is,” onthou dié begaafde 30-jarige, wat verlede jaar as een van Mail & Guardian se voorste 200 jong Suid-Afrikaners aangewys is.

“Die opleiding wat ek daar ontvang het, was straf dog holisties. Ons is deurlopend aangemoedig om musikaliteit as ’n allesomvattende praktyk te beskou.”

Hierdie BMus-graduandus van die Universiteit Stellenbosch (US) glo daarom sy professionele loopbaan het eintlik reeds op 12-jarige ouderdom begin toe hy weekliks voor groot gehore moes optree, benewens jaarlikse plaaslike en internasionale toere.

“Ek gebruik steeds heeltyd die gereedskap waarmee ek destyds toegerus is. Hoewel dit deesdae ’n meer gesuiwerde vorm aanneem, bly dit die kern van my praktyk – van repetisievoorbereiding tot etiket, produksie en optrede.”

Een van die merkwaardigste kenmerke van Thuthuka – wat pas terug is ná ’n opleidingstydperk by die prestigeryke Juilliard-skool in Manhattan, New York – is sy vermoë om klassieke musiekelemente met meer moderne ondertone en Afrika-invloede te kombineer.

“Wat ek skep, is ’n produk van my lewenservaring as ’n jong swart Afrikaman in die era van die internet. Hetsy bewustelik of onbewustelik verstaan ek die wêreld om my deur kuns.

“Sodoende is ek voortdurend besig om die status quo te bevraagteken wat betref die name wat ons aan sekere vorme gee. Sommige sal so ver gaan om dit as ’n basterdering van genre te bestempel. Vir my gaan dit eerder oor die gedagte dat sekere ‘grense’ gewoon nie bestaan nie.”

Daarom is dit vir Thuthuka nie altyd ’n doelbewuste besluit om in al hierdie ‘verskillende’ musiektale te werk nie, maar eerder ’n omvattende proses, wat by tye nogal onthullend kan wees.

“Om saam met ander kunstenaars te werk pas my die beste en verryk ook my proses – dit word ’n kwessie van gee en neem, nie net met die omgewing of tematiese materiaal waarmee ek werk nie, maar ook met die mense met wie ek in daardie stadium saamwerk.”

Hy was al by verskeie internasionale produksies van formaat betrokke en het onder andere reeds die geleentheid gehad om met gerekende rolspelers in die bedryf soos William Kentridge en Philip Miller saam te werk.

“Elke projek is ongelooflik op sy eie manier. So byvoorbeeld staan Triumphs and Laments uit weens die reuseskaal van die projek en wat ons reggekry het. Grace Notes was op sy beurt ’n persoonlike triomf omdat dit eintlik my eerste opdragwerk vir Kaapstad Opera was. Boonop het die meeste musiek wat ek by daardie program ingesluit het, hetsy gekom uit óf my herinner aan my kindertyd by die Drakensberg-seunskoor. Op ’n manier voel dit dus of ek ’n kringloop voltooi het.”

Die res van 2018 lyk of dit ewe besig gaan wees vir hierdie jong baanbreker danksy die debuut van William Kentridge se The Head & The Load (met Thuthuka as musiekdirekteur) by die Tate Modern in Londen in Julie. Die produksie sal ook daarna in New York en Berlyn te sien wees.

  • Klik hier vir ’n voorsmaak van The Head & The Load.
  • Luister hier na The African Choir 1891 Re-imagined.

- Deur Steyn du Toit -