Joernalis, redakteur, skrywer, inhoudskepper, invloedmaker op sosiale media en entrepreneur — Janine Jellars seëvier op elk van hierdie gebiede met flair.
“In ‘n neutedop is wat ek doen om handelsname en verbruikers by mekaar uit te bring deur die krag van die internet,” verduidelik Janine wat in 2004 haar graad cum laude aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het.
“Ek tree in konsultasie met handelsname oor hoe hulle die beste hulle ideale mark kan teiken. My agentskap, TRUE Content, spesialiseer in inhouds- en sosiale mediabemarking.
Tot dusver het ek vele loopbaanhoogtepunte beleef, insluitende om ‘n slag te slaan met vername onderhoude en om globale digitale veldtogte te lei.
“Ek het al alles gedoen: van die redigering van seventeen tydskrif tot die voer van onderhoude met Michelle Obama en Rihanna en die loods van ‘n eerste-op-die-vasteland sosiale media-reaksiesentrum vir Coca-Cola.”
Janine beskryf sosiale media as ‘’n mikrokosmos’ van die breër Suid-Afrikaanse samelewing.
“Die aanvaarde narratief — hetsy in tradisionele media of aangekondig deur tradisionele hekwagters — word voortdurend uitgedaag. Jonger Suid-Afrikaners loop oor van selfvertroue wanneer hulle hul standpunte stel en is besig om die ouer geslag se pogings om hulle te paai te verwerp.
“Daar is woede, debatvoering, ‘n gelag, hoop, gemeenskap en nimmereindigende gesprekvoering. Vir my voel dit werklik asof wat ons deesdae op sosiale media sien, sowel die beste as die slegste sye van ons land weerspieël.”
Sy het haar ook gevestig as mede-aanbieder van die gewilde podsending, Frank, en as skrywer van die boek, The Natural Newbie Guide.
“Ek is altyd op enige gegewe tyd besig met ’n byprojek of vyf. Ek is mal daaroor om te ‘skep’, selfs al word ek nie betaal om dit te doen nie. Frank, die podsending waarvan ek uitvoerende vervaardiger en mede-aanbieder is, is liefdeswerk; ’n gesprek tussen twee feministiese mense met uiteenlopende wêreldbeskouings. Ek is nogal trots daarop dat ek en my kreatiewe vennoot, Tshego Senne, daarin geslaag het om die podsending al hierdie jare aan die gang te hou.
“My boek het ontstaan uit die feit dat natuurlike hare ’n beweging én ’n lewenstyl is. The Natural Newbie Guide is ’n eenstopgids vir mense wat daarin belangstel om hulle natuurlike hare te aanvaar en te koester. Dit is my manier om ’n ietsie van my ‘haarkennis’ te konsolideer en oor te dra.”
Sy beskryf haar as iemand wat hard werk, maar ook “haar stokperdjies ywerig najaag”. Wanneer sy weg is van die werk en nie aanlyn besig is nie, skakel Janine af deur in ‘n vliegtuig te klim en te reis.
“So tussen die gestempel in my paspoort, lees ek graag en geniet ek dit om uit te eet.”
- Deur Steyn du Toit -