Matie-stemme

Sisanda Thuthula Lisa

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ek het baie hoop en positiewe drome vir Suid-Afrika, maar voorop is ’n droom van ’n Suid-Afrika waar almal gelyk behandel word.”

As ’n diplomaat by Suid-Afrika se Hoë Kommissaris in Londen geniet Sisanda Thuthula Lisa dit om geleenthede vir jong Suid-Afrikaners te skep en om Suid-Afrika deur verskeie platforms in die Verenigde Koninkryk (VK) te bevorder.

Sisanda het in kwaLanga in Kaapstad grootgeword en aan Hoërskool Hudson Park in Oos-Londen gematrikuleer voordat sy ’n beurs ontvang het om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. Sy het in 2006 met ’n BA-graad in internasionale studies gegradueer.

“Ek het nog altyd ’n aanleg vir internasionale sake gehad en daarin belanggestel om internasionale kwessies aan te spreek. Die belangrikste ding is egter dat ek altyd geweet het ek wil dien. Ek wou op een of ander manier betrokke wees in staatsdiens, en ek het geweet dat as ek internasionale studies studeer, dit my sou help om hierdie doelwit moontlik te maak.

“Enige graad bied ’n mens geleenthede en om ’n graad aan die US te verwerf, het beslis vir my werkgeleenthede verseker wat gehelp het om my loopbaanpad te vorm. Om by die US te studeer, het my verryk en my horisonne verbreed. Een van die belangrikste vaardighede wat ek geleer het, was om my studies, werk en sosiale lewe te balanseer.”

Sisanda het tot dusver die grootste deel van haar loopbaan in die openbare sektor gewerk, hoewel sy ondervinding van die privaat sektor ook het.

Haar verantwoordelikhede as eerste sekretaris: politieke bilaterale verhoudinge by die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris is onder meer om Suid-Afrika se nasionale belange in die VK te deel, Suid-Afrika te bevorder en geleenthede wat in verskeie sektore vir Suid-Afrika beskikbaar is, te identifiseer.

Sy geniet Londen se kosmopolitaanse aard en tel dit onder een van haar gunstelingstede in die wêreld, naas Kaapstad natuurlik. Sy is mal oor reis en het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om in Europa rond te reis.

“My laaste reis was na Dubrovnik in Kroasië – ’n absolute juweel. Elke bestemming is anders en tel almal as hoogtepunte vir my.”

Al woon sy tans oorsee, is sy steeds baie patrioties en hou sy die Suid-Afrikaanse vlag hoog waar sy ook al gaan.

“Ek het baie hoop en positiewe drome vir Suid-Afrika, maar voorop is ’n droom van ’n Suid-Afrika waar almal gelyk behandel word. ’n Land met geen statistieke van geweld teen vroue en kinders nie. ’n Suid-Afrika wat korrupsievry is met ’n ekonomie wat vinnig groei.”

Sy beplan om ’n meestersgraad in besigheidsadministrasie te doen nadat sy haar termyn in die VK voltooi het.

“Ek wil myself in hierdie dissipline ontwikkel om te verseker dat ek ’n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se ontwikkelingstrajek op die gebiede van sosiale entrepreneurskap en besigheid kan maak,” sluit sy af.

- Deur Pia Nänny -