’n Mens besef nie hoe mooi Suid-Afrika is totdat jy die res van die wêreld gesien het nie.
So sê die voormalige Matie Nick Smit, wat in New York gebaseer is en tans die besturende direkteur en hoof van finansiële instellings by ING Bank, die grootste bank in die Benelux, is.
“Die Kaap is waarskynlik een van die mooiste plekke op aarde, en ek kom agter dat ek dikwels na die berge en die strande verlang. Gelukkig het ek ’n woonstel in die stad, wat ek een keer per jaar kan besoek.
“Ek is ook nog in kontak met baie van my ou Matie-vriende. Hulle woon nou oor die hele wêreld—Londen, Seattle, Lissabon, en selfs in Short Hills, New Jersey. Wanneer ons saam is, praat ons graag oor die beste tye in ons lewe—Jool, die Neelsie, sokkie, Klipdrif, Tassies, en natuurlik ’n bietjie politiek!”
Nick is sedert 2011 in sy huidige posisie by ING Bank. Voor dit het hy meer as ’n dekade lank as hoof van personeelbankdienste gedien.
“Ons is in 42 lande oor die wêreld heen teenwoordig. My taak is om na die verhoudings tussen die instelling en die Amerikaanse, Kanadese en Latyns-Amerikaanse banke, batebestuurders en versekeringsmaatskappye om te sien.”
Hy beskryf sy tyd as personeelhoof as een van die interessantste en skrikwekkendste tye van sy lewe tot dusver.
“Ek het in 2007 in hierdie posisie begin, presies dieselfde jaar as wat die finansiële krisis begin het. Dit was dus ’n baie moeilike tyd vir die bank. Ons moes staatshulp van die Nederlandse regering kry, al ons nie-kernaktiwiteite verkoop, en honderde werkers aflê.
“’n Tydperk soos daardie wys jou wie die ware leiers in die wêreld is. Dit leer jou om te waardeer wat jy het. Dit motiveer jou om te fokus en te volhard. Vandag is ING bategewys minder as die helfte van die grootte wat dit was, maar ons winsgewendheid is dubbeld soveel as wat dit voor die krisis was.”
Nick, wat vantevore bydraes tot die US-beursfonds gemaak het, bied ook gereeld geleenthede vir Maties in New York aan.
“In die verlede het ek probeer om alumni aan UNICEF bekend te stel om te bepaal of daar enige moontlikhede vir samewerking kan wees.”
Om met die wêreld se grootste banke en batebestuurders te kan saamwerk, gee ’n mens fantastiese blootstelling, verduidelik hy.
“Een van die treffendste dinge is hoe geïntegreer die wêreld geraak het. Wat in Washington gebeur, beïnvloed wat in China gebeur en wat in China gebeur, raak byna alle lande. Besluite wat die grootste Amerikaanse batebestuurders in Boston neem, beïnvloed lande soos Turkye en Suid-Afrika op fundamentele wyse.
“Dit sal baie gevaarlik wees as almal ‘ek eerste’ begin dink—Amerika eerste, China eerste, die Verenigde Koninkryk eerste, en so aan. Ons is beslis by ’n keerpunt wat globale denke betref, en die besluite wat ons in die komende jare neem, gaan geweldig belangrik wees. Daar is gewis oombliklike bewustheid hier in die sakegemeenskap in New York, en dit sal ook Suid-Afrika in die toekoms beïnvloed.”
Afgesien van sy veeleisende korporatiewe loopbaan geniet hy die kulturele lewe saam met sy lewensmaat, Francois, in en om New York.
“Ons geniet die verskeidenheid teater, musiekblyspele en konserte wat die stad bied, en woon gewoonlik minstens een keer ’n week ’n teateruitvoering by.
“Ons is ook lief vir reis, omdat die VSA soveel te bied het. Ons was nou onlangs in Santa Fe om die buitelug-operafees by te woon. Verder stap ons graag in die berge en die Rockies is fantasties daarvoor.
“Vir my is die hoogtepunt van die jaar die Sundance-filmfees in Park City naby Salt Lake City. Dit is in Januarie, wat beteken jy kan bedags gaan ski en saans die flieks kyk!”
- Deur Steyn du Toit -