In Augustus 2015 het Dr Ethan Newman die Nasionale Navorsingstigting se prys vir uitnemende navorsing deur ? manlike volgende-generasie navorser ontvang. Prof Bruce Anderson, Ethan se studieleier vir sy honneurs- en doktorsgraad, sê Ethan se passie vir biologie ken nie perke nie: “Ek het nog nie ? student met soveel entoesiasme vir die onderwerp of met ? beter waarnemingsvermoë ontmoet nie.”
Maar hierdie prestasies het ook harde werk, uithouvermoë en toewyding geverg. Ethan vertel hy het as kind vir ure in die renosterveld naby sy tuisdorp, Wellington, rondgedwaal en reptiele, insekte en spinnekoppe versamel.
Dit was egter eers op hoërskool dat sy belangstelling in plante in ? allesoorheersende passie ontwikkel het. “Ek het veral in skaars bolplante en orgideë belanggestel. Ek het ook ? paar vriende gehad wat net so passievol soos ek was oor natuurgeskiedenis en ons het baie tyd in die veld deurgebring. Dit was dié avonture wat my laat besef het dat ek ? plantkundige wil word,” sê Ethan.
Hy het reeds as voorgraadse student begin om data vir sy honneursprojek in te samel oor die monnikskappie-disa (Disa ferruginea) en sy bestuiwer, die bergnooientjieskoenlapper (Aeropetes tulbaghia). Dié skoenlapper is die enigste insek wat die monnikskappie bestuif, maar het plekgebonde, baie spesifieke kleurvoorkeure. Dié navorsingsveld is belangrik, aangesien die aantal bestuiwers wêreldwyd besig is om af te neem, met ernstige gevolge vir voedselsekuriteit. Terselfdertyd is wetenskaplikes bekommerd oor die afname in die bestuiwersgetalle van wilde plante. Sonder bestuiwers kan honderde inheemse plante uitsterf.
Ethan het dikwels vir dae aaneen weggeglip veld toe om data te versamel op Tafelberg en die Langeberg in die Grootvadersbosch Natuurreservaat. ? Jaar ná die voltooiing van sy honneursprojek is sy tesis as ? artikel in die internasionale vaktydskrif Proceedings of the Royal Society B gepubliseer. “Dit was ? bepalende oomblik in my loopbaan as jong navorser,” erken Ethan.
Toe, vir sy meestergraad het hy die werk wat hy as voorgraadse student begin het, voortgesit. Hierdie keer het hy op die berglelie (Nerine humilis), wat deur die enigmatiese lang-tong vlieg (Prosoeca longipennis) bestuif word, gefokus. As gevolg van sy vinnige navorsingsvordering ontvang hy toe ? National Geographic Young Explorer-toekenning. In die tweede jaar van sy studies word sy meestersgraadprojek na ? PhD opgegradeer.
“Ek besef vandag hoe bevoorreg ek is om my drome te kan verwesenlik terwyl die meeste van my tydgenote alreeds opgegee het nog voordat hulle probeer het. My passie vir die wetenskap is nie iets wat ek aangeleer het nie; dit is deel van my.”
- Deur Wiida Fourie-Basson -