Matie-stemme

Samantha Stander

Student aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“Om aan sport deel te neem en suksesvol daarin te wees het regtig my selfvertroue ? hupstoot gegee. Maar ek kon dit nie doen sonder die ondersteuning van al die mense wat in my glo nie – dit maak dit makliker om in jouself te glo.”

Om struikelblokke te oorkom is ? daaglikse oorwinning vir Samantha Stander, ? tweedejaar mediese student van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die 24-jarige is gebore met erge oorerflike ontwikkelingsdisplasie in albei heupe – ? toestand wat haar heupe se belyning affekteer. Samantha se toestand is so ernstig dat dokters vir haar ma gesê het dat sy nooit sal kan loop nie.

Vandag loop hierdie vasberade jong vrou nie net nie, maar sy neem gereeld aan hardloop- en fietswedrenne deel. Verlede jaar het sy twee hindernisbane voltooi, genaamd “The Grind”, waar sy nie net 5km moes hardloop nie, maar ook oor mure moes klouter, deur modder moes kruip, en deur watergate moes swem (om net ? paar van die sowat 20 hindernisse te noem) om die eindstreep te bereik.

Samantha, wat in die Oos-Kaapse dorp Cradock grootgeword het, sê “The Grind” was beslis van die moeilikste wedlope wat sy al ooit aan deelgeneem het. “Dié hindernisbaan daag elke deel van jou lyf uit – jou bene, arms en selfs jou verstand.” Weens haar heupdisplasie het sy beperkte gebruik van haar bene en dit is moeilik en soms pynlik om te beweeg. Tans kan sy net kort afstande hardloop en wissel sy tussen hardloop en stap wanneer sy aan wedlope deelneem.

In haar kinderjare terwyl haar lyf steeds ontwikkel het, is sy nie toegelaat om aan enige sport deel te neem nie, en het toe vir die eerste keer in haar lewe in 2015 aktief geword. “Ek dink die enigste werklike gestremdheid is ? slegte houding,” sê Samantha in haar vrolike en opgewekte manier. “Ek oortuig myself die heeltyd dat ek die wedlope moet voltooi. Ek het geen verskoning om nie oor die eindstreep te kom nie, al moet ek myself soontoe sleep,” erken Samantha.

Sy het reeds heelwat korter fietswedrenne voltooi. “Ek geniet fietsry ontsettend. Dit plaas minder druk op my heupe as om te hardloop, maar dit het wel ander uitdagings,” sê Samantha terwyl sy na haar geskaafde elmboog en gekneusde knie beduie wat sy tydens ? onlangse val met die bergfiets gekry het.

Een keer per week dans sy boonop by die Maties Dansvereniging wat Latyns- Amerikaanse en baldansklasse op die Tygerberg-kampus aanbied. “Om aan sport deel te neem en suksesvol daarin te wees het regtig my selfvertroue ? hupstoot gegee. Maar ek kon dit nie doen sonder die ondersteuning van al die mense wat in my glo nie – dit maak dit makliker om in jouself te glo.”

Met daardie ware “Samantha- geesdrif” is dit geen wonder nie dat sy nou oorweeg om, benewens hardloop en fietsry, ook swem aan te pak. En dan erken sy dat ook driekamp in haar visier lê.

- Deur Wilma Stassen -