Matie-stemme

Dr Giverson Mupambi

Alumnus van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“Ek word gemotiveer deur boere te help om die uitdagings van 'n veranderende wêreld aan te pak.”

Giverson Mupambi is een van daardie sonderlinge mense wat alle aspekte van sy werk geniet. Hy neem in Januarie 2019 sy huidige pos op as voorligtingsdosent aan die Universiteit van Massachusetts Amherst (VSA) en sy basis is die universiteit se bosbessie-eksperimentstasie in East Wareham, Massachusetts. Sy werk sluit in interaksie met bosbessieboere en toegepaste navorsing om oplossings te vind vir die uitdagings wat deur bosbessieboere ervaar word. Sy werk fokus op toegepaste navorsing wat daarop gemik is om onmiddellike en praktiese oplossings vir probleme in die bosbessiebedryf te vind.

In sy huidige pos help hy die gemeenskap in die suidooste van Massachusetts deur die ekonomiese lewensvatbaarheid van Massachusetts se bosbessiebedryf deur navorsing en uitreik-aksies te verhoog. Die bosbessiebedryf is vir die gemeenskap belangrik wat betref direkte werksgeleenthede asook die geleenthede wat dit vir verwante bedrywe, soos die verwerking van sap, skep.

“Ek word gemotiveer deur boere te help om die uitdagings van ‘n veranderende wêreld aan te pak. Ek wil hulle help met oplossings vir die invloed van klimaatsverandering op bosbessieproduksie en hoe om produksie te maksimaliseer in die lig van strawwe mededinging om beperkte hulpbronne, soos arbeid, landbougrond en water vir besproeiing.” Sy toekomsdoelwitte is om meer toegepaste landbounavorsers op te lei deur meer studente en nagraadse studente by sy navorsingsprogram te betrek. “Ek wil landbounavorsing ‘cool’ maak, sodat ons die volgende geslag landbouvoorligtingspesialiste kan lok.”

Ná ’n MSc en PhD in hortologie (2010 en 2017) aan die Universiteit Stellenbosch (US), begin Giverson sy loopbaan in 2017 as nadoktorale navorsingsdeelgenoot aan die Universiteit van Washington (VSA), waar hy tot einde 2018 bly. Sy nadoktorale navorsing wentel om die ekofisiologiese reaksie van appelbome op die gebruik van nette en op waterstres. Hy sê sonbrand is ’n groot probleem vir boere in Washington en in Suid-Afrika. Skadunette is ’n goeie opsie om sonbrand te verminder, want die gebruik van fotoselektiewe nette laat toe dat die ligspektrum daaronder beheer word om meer blou of rooi lig te bied. Die nette help ook met beter beheer van die grondvog, wat nuttig is in gebiede waar droogtes voorkom.

Giverson word op ‘n dorp met die naam Mutare in Zimbabwe groot en doen sy voorgraadse studie aan die Universiteit van Fort Hare, met landbou-ekonomie en plantproduksie as sy hoofvakke. Gewaswetenskap en hortologie is deel van plantproduksie en hy geniet dit baie. Teen sy laaste jaar weet hy dat hy hortologie op nagraadse vlak wil studeer.

“Die US het die reputasie as die beste hortologiedepartement in Suid-Afrika en ek het besluit om vir my M aansoek te doen en is aanvaar.” In 2008 verhuis hy na Stellenbosch om sy meestersgraad onder dr Stephan Verreynne te begin en woon in Metanoia-koshuis. Ná sy meestersgraad werk hy ’n jaar lank as navorsingsassistent aan die Departement Hortologie, voordat hy vir sy PhD, met prof Wiehann Steyn as studieleier, inskryf.

“Terugskouend was dit moeilik, maar ek is dankbaar vir die leiding wat ek ontvang het.” Sy PhD fokus op waterverhoudings en sonbrand in appels, aangesien sonbrand in appels ‘n groot probleem in Suid-Afrika is, met verliese van tot 50% van die totale opbrengs, volgens sy studies. Sy hoofdoelwit is om die verband tussen bome se waterverhoudings en sonbrandontwikkeling in Suid-Afrikaanse toestande te ondersoek.

Hy wys daarop dat die vernaamste streke vir die kweek van appels in Suid-Afrika hoë uitstraling ervaar, terwyl temperature tydens die groeiseisoen dikwels bo 40 ˚C styg. Die studie bied verdere bewyse van die skakel tussen plante se waterstatus en die ontwikkeling van sonbrand. Dit toon dat die goeie bestuur van plante se waterstatus deur besproeiing baie belangrik is vir die beheer van sonbrand in streke met hoë temperature.

Tydens sy werk aan sy PhD besluit hy dat hy ook werkondervinding nodig het en kry hy ’n jaar lange navorsingsassistentskap by die Washington Vrugteboomnavorsingskommissie in Wenatchee (VSA) deur The Ohio Program. In hierdie tyd doen hy ekofisiologiese werk vir die Universiteit van Washington se Vrugteboomnavorsings- en Voorligtingsentrum onder leiding van dr Lee Kalcsits, wat besluit om hom as ’n nadoktorale navorsingsdeelgenoot in sy laboratorium aan te stel.

- Deur Elbie Els -